Friday 11 April 2014

Vosloos se Sondag gemmerhoender met knolgroente




Vosloos se Sondag gemmerhoender met knolgroente

Renette Vosloo se resep op Kokkedoor

1 heel hoender van ± 1,5 kg
100 g botter by kamertemperatuur.
25 ml braaispeserye – sout, peper, fyn naeltjies, fyn koljander, paprika, knoffelpoeier en fyn wonderpeper
3 witwortels, oor die lengte deur in kwarte gesny
3 geelwortels
3 soetpatats
3 heel bete
Gemmersous
250 ml witsuiker
Vars gemmer, duimlengte
25 ml braaispeserye of kruiesout
250 ml Pynappelsap of die sap van geblikte pynappel
50 ml koue botter in blokkies gesny

Instruksies


1. Voorverhit die oond tot 180ºC.
2. Was die hoendertjie mooi af en droog af met kombuispapier.
3. Maak met jou hande die velletjie oor die borsies baie versigtig los van die vleis, sonder om dit te skeur. Doen ook so met die velletjies rondom die boudjies.
4. Stop stukke van die sagte botter onder die los velletjies in en druk dit goed teen die vleis vas.
5. Sprinkel die braaispeserye oor die hele hoender en vryf dit bietjie in die velletjie in.
6. Sny die groente ongeskil in kwart of in wiggies en plaas dit in ‘n oondroosterpan.
7. Plaas ‘n roosterrak bo-oor die braaipan met die hoender daarop, borskant na bo. Rooster die hoender en groente op die middelste rak vir ongeveer 45 minute tot ‘n uur, tot die velletjie bros en goudbruin is.
Gemmersous
1. Oondplaat op nommer 4. Plaas ‘n swaarboompan daarop en gooi die suiker oor die bodem. Laat stadig smelt en verbruin. Rol die pan om dit te roer. Wees geduldig en moenie wegstap van die stoof af nie!
2. Sny die gemmer oorlangs in ronde skyfies, ongeveer 2 mm dik en sny dan die skyfies weer in kleiner stukkies.
3. Wanneer die suiker gekaramelliseer het word die res van die bestanddele behalwe die botter bygevoeg.
4. Verminder die hitte na 2 en laat die sous stadig prut, vir ongeveer 15 – 20 minute. Roer nou en dan met ‘n houtlepel.
5. Verwyder van die hitte en roer dan die botterklotjies deur, vir ekstra volheid en glans.
6. Proe vir geur en voeg sout by indien verkies en bedien as sous saam met die broshoendertjie.