Thursday 20 March 2014

Mynhardt en Tiaan se Rugby dekor idees

Makietie: Rugby dekor idees


 




Mynhardt tackle Springbokkies en wys hoe om ou rugbytruie, -sokkies en -balle op ’n nuwe, oorspronklike manier te gebruik vir dekor.

Vintage Rugby

Mynhardt tackle Springbokkies en wys hoe om ou rugbytruie, -sokkies en -balle op ’n nuwe, oorspronklike manier te gebruik vir dekor. Boonop wys hy ons hoe om ’n skilderdoek van voor af te maak. Tiaan skop die bal deur die pale met drop-roomys, maak mayonnaise met melk en bedien slaai op ’n koringgrasveld. Vintage rugby op sy beste!

IMG_2506


1. Laerskool Swartland skenk vir ons 'n paar ou rugbytruie wat vinnig in stoel oortreksels verander.
2. Rugby kouse word om herwinde twee liter koeldrank bottels gespan en word innoverende blompotte.
3. Voorgereg word bedien op koringgras wat sommer maklik self gegroei kan word om 'n rugbyveld na te boots.
4. Ons maak ou rugbyfoto's bymekaar en laat hulle baie koste effektief in swart op wit papier druk om 'n ouderwetse gevoel te gee.
5. Ons grawe ou sportbekers uit en gebruik hulle as blompotte met herwinde ou linte uit die laai gegrawe.
6. Ons wys hoe om vinnig 'n skilderdoek aan mekaar te slaan en teken sommer ons eie rugbyklub embleem daarop.

Die eindfluitjie het geblaas!

Die Groen en Goud Springbok Hoofgereg


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Die Groen en Goud Springbok Hoofgereg

Mooi maakwenk: Ons bord is gemaak uit ou vloerplankies wat maklik aan mekaar getimmer en afgeskuur is. Dit kos niks en lyk baie goed.

Gebraaide springboklende met goue wortels, aspersies, klein kool koppe, parmesan kaas, pietersielie emulsie, bros gebraaide brood krummels met suurlemoenskil

Voorbereidingstyd 35 minute

Sprinkbok lende
(Hou solank jou oond reg op 200 grade om vleis warm te maak net voor die bediening)

• 10 x 150g Springboklende of kruisskyf
• Olyfolie
• Sout en peper

Vryf die Springbokvleis in met die olie en sout en peper. Maak seker die vleis is kamer temperatuur voor jy dit begin braai.

In 'n lekker groot pan seël die vleis goed af, omtrent 3 minute aan 'n kant en sit een kant om te rus.

Groen en goue groente

• 30 klein goue wortels
• 30 dun vars groen aspersies
• 5 klein kole, in kwarte gesny
• 2 eetlepels botter vir braai en n bietjie ekstra....
• ‘n handvol tiemietakkies

Blansjeer al die groente deur in kokende water te dompel vir een minuut haal uit en plaas dadelik in 'n bak yswater, die kleur bly dan behoue en die groente lyk mooi vars. Braai die groente in die botter tot lekker gekaremaliseer vir omtrent 3 tot 5 minute, voeg nog n lekseltjie botter by en die tiemie, hou warm. Vir ‘n bietjie ekstra kleur het ons die groente ook vinnig op die riffelpan laat kleur kry!

Ko wenk: Plaas die groente eers in 'n groot genoeg sif of vergiettes en dompel dan in die kokende water om die proses maklik te maak.

Bros broodkrummels

• 8 snye dag ou brood
• 50 ml Olyfolie
• Skil van 2 suurlemoen
• 125ml fyngerasperde Parmesaan kaas

Verwerk die brood in voedsel verwerker tot grof en braai in olie tot bros, voeg die suurlemoen skil en parmesan by en geur met sout en peper, hou eenkant.

Pietersielie Emulsie

• 100ml melk
• 300 ml canola olie
• Handvol pietersielie baie fyn gekap
• Knippie sout

Meng melk en pietersielie saam. Gebruik n elektriese hand klitser en voeg die olie stadig by die melk en pietersielie mengsel tot dit lyk soos dik room voeg n knypie sout by en hou eenkant.

Hierdie is lekker om te maak met enige geur as 'n plaasvervanger van mayonnaise

Plaas die vleis vinnig in die oond om net deur warm te raak maar nie nog te kook nie, letterlik 5 minute! Rangskik die groente op die bord, bedruip met emulsie en strooi die krummels oor. Geniet!

Die ‘All Black’ Nagereg


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Die ‘All Black’ Nagereg

Voorbereiding: 1 uur en 'n half sonder vriestyd

Ons moes net 'n bietjie ons rugbylegende gaste se bene trek met die volgende nagereg:

Liquorice roomys, donker sjokolade krummels en meringue

Roomys

• 1 liter room
• 10 eiergele
• 200g suiker
• 5 stringe 'drop' of liquorice

Verhit die room saam met die drop tot gesmelt, klits die eiers saam met die suiker tot lig en romerig, voeg die roommengsel by en verhit dan weer tot gaar. Verwerk in roomys masjien tot gevries.

Met die gebrek aan ‘n roomysmasjien, giet in ‘n vlak bak en sit in die vrieskas, klits elke uur of wat tot gestol om yskristalle te voorkom!

Koswenk: Maak die roomys 'n dag voor die tyd om hope spanning te voorkom. Die laaste ding waaroor jy jou moet bekommer is of die roomys geset het...

Donker Sjokoladekrummels
Oond 180 grade

• 200g meel
• 100g sagte botter
• 100g kakao
• 100g suiker

Vryf die botter in by die meel en die kakao en strooi die suiker bo oor. Bak in matige oond en roer deurentyd tot gaar en bros. Hou eenkant.

Koswenk: Hierdie kan 'n paar dae voor die tyd gemaak word en hou wonderlik in 'n lugdigte houer. Maak sommer genoeg vir volgende keer!

Meringue
Oond 50 grade

• 4 eierwitte
• 100g fyn strooisuiker
• 100g versiersuiker

Klits die witte tot sagtepunt stadium - dit moet lyk soos die sneeupieke op die Switerse Alpe - en voeg die suiker stelselmatig by tot opgelos. Vou nou die versiersuiker in en spuit op voorbereide bakplaat in klein hopies. Plaas in die lou oond van 50 grade tot uitgedroog en bros.

Kombineer alles op 'n wit bord om die kleur te laat uitstaan. Skep die roomys laaste op en bedien dadelik.