Monday 24 March 2014

Mynhardt en Tiaan se 21ste Verjaarsdag

Makietie: 21ste Verjaarsdag

 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Die opwinding van een en twintig wees! Daar kom net niks daarby nie. In alle kulture word hierdie groot dag verskillend gevier en ons het besluit om vir hierdie Makietie 'n oosterse tema daaraan te koppel.

Ons inspirasie begin by 'n suurlemoenboom wat in die tuin dood gegaan het. Die is afgesaag en staan gemaak op ons groot eetkamer tafel sodat dit lyk asof die boom uit die tafel groei. Kuns-lentebloeisels is aan die takke vas gegom om die nuwe begin en nuwe lewe aan te kondig.

Ons kook ook oosters en doen interessante variasies op die klassieke fondue en maak heerlike dimsum.

Om een en twintig te word gebeur tog net een keer. Ons wys vir jou hoe om dit onvergeetlik te maak.

Een en Twintigste Verjaardag-spyskaart:
• Kaas fondue soos nog nooit tevore
• Geurige Oosterse aftreksel fondue
• Gestoomde handgemaakte Dim Sum
• Olie Fondue met Sjokolade Springrolletjies

Geurige Oosterse Aftreksel Fondue

Hierdie is 'n wonderlike vars en lekker manier van eet. Heel eerste moet jy 'n lekker aftreksel maak waarin al die komponente gekook word.

• 2 rooi uie gekap in lang repies
• 50g gedroogde sampioene
• 400g vars eksotiese sampioene
• 125ml sojasous
• 2 liter goeie kwaliteit hoenderaftreksel

Braai die uie in bietjie olie en voeg die sampioene by. Braai dit op 'n relatiewe lae hitte want jy wil nie te veel kleur op die uie hê nie. Voeg nou 'n goeie kwaliteit aftreksel by en laat dit effens kook. Geur met die sojasous en laat stadig prut sodat die geure kan ontwikkel.

Berei nou die volgende groente voor:
• Paar pakkies gekleurde baba wortels
• Vars koppe pak choi- of babakool
• Dun aspersies
• Mange tout

Al wat jy vooraf moet doen, is om die groente af te spoel en te sny en die wortels kan jy voor die tyd bietjie kook. Sit 'n verskydenheid van hierdie groente in bakkies vir elke gas.

Vleis en vis vir die aftreksel:
Vir die vleis deel van hierdie dis hoef jy nie veel self voor te berei nie. Ek het basies vars salm, vark en garnale bedien.

• 3 garnale, skoongemaak en in die helfte gesny
• 80g salm in dun skywe
• 80g vark fillet ook in dun skywe

Sit dit op 'n bordjie saam met die groente en skep die aftreksel in 'n fondue stel.

Een en Twintigste Verjaardag Dekor Idees

• Maak jou eie fondue stomers met klei potte, bakkies met bio-olie, enamel bakkies vir die aftreksels en kaas en plaas dim sum bamboes stomers bo oor vir die dim sum
• Sny 'n dooie boom af en versier met kunsblomme om soos lentebloeisels te lyk
• Gebruik chinese wit lanterns en papier sambrele in die boom
• Maak geskenk bonsaipakke met klei potte, hout mandjies en goedkoop bonsai-skertjies
• Gebruik chinese koerante vir plekmatjies
• Gebruik goedkoop chinese kermakiek bakkies en lepels vir bydraende versiering
• Steek baie kerse in glasglasies aan vir n romantiese gevoel
 
 
Kaas Fondue
 
 
Hierdie is 'n heerlike kaas fondue voorgereg met ’n baie traditionele resep. Die kaas vir hierdie resep is nogal duur maar heeltemal die moeite werd as 'n mens sien hoe mense die bakkies uitlek...

• 1 huisie knoffel
• 1.1/2 koppies droë witwyn
• 1 tl suurlemoen sap
• 2 koppies gerasperde emmenthal kaas
• 2 koppies gerasperde gruyere kaas
• 1 eetl mielieblom
• 3 eetl kirsch
• wit peper
• neutmuskaat
• paprika na smaak
• om te bedien lekker Franse of Italiaanse brood wat effens gerooster of warm gemaak is.

Smeer die binnekant van ’n pot met die gesnyde knoffelhuisie uit. Verhit die wyn en die suurlemoensap. (Die stap met die knoffel klink dalk onnodig maar jy sal die glo watse verskil dit aan die dis maak nie.)

Voeg die kaas by en roer die heeltyd tot dit oplos in die wyn en lekker smelt. Sodra die mengsel verhit is, voeg jy die kirch en die mielieblom by. Dit sal voorkom dat die kaas en die wyn skif.

Kook 2-3 minute en geur na smaak met die speserye. Bedien saam met die brood.

Jy moet maar hierdie fondue dadelik eet want dit is nie dieselfde as dit eers afgekoel het en weer verhit is nie, maar jy hoef ook nie te bekommer nie: daar sal niks van hierdie een oorbly nie.       
 
 
 Handgemaakte Dim Sum
Hierdie Dim Sum is in bamboes mandjies bo-oor die aftreksel gestoom en verskaf wonderlike vermaak vir die gaste.

• 500g vark maalvleis
• 1/2 klein blikkie bamboo shoots
• Sojasous na smaak
• 20ml saki

Vir die deeg
• 2 koppies koekmeel
• 3/4 koppie warm water
• sout
• Basilliekruid blare

Vir die deeg meng jy net die meel water en sout saam en vorm ’n deeg. Knie dit bietjie en laat staan om te rus. Begin nou met die vulsel.

Kap die bamboo shoot bietjie fyner ek gooi dit by die vark maalvleis in ’n bak. Voeg die res van die bestanddele by en roer baie goed.

Sodra die deeg bietjie gerus het kan jy dit baie dun uitrol. Ons het sommar ’n pasta masjien gebruik.

Sny nou sirkels uit en sit teelepels vol van die vleismengsel in die middel. Gebruik bietjie water en vou die sirkel toe. Druk die punte bymekaar en druk effens plat. Jy kan nou die deegpakkies in die stomer sit, bo op ’n basilliekruid blaar. Hulle stoom vir ongeveer 8 minute of tot die maalvleis gaar is.

               
Olie fondue met sjokolade springrolletjies         
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Baie maklike nagereg wat voor die tyd gemaak kan word en dan net gediepvetbraai kan word sodra dit tyd is vir iets soets.

• 250ml dik room
• 2 groot pakke sjokolade
• Springroll-deeg
• Meel en water mengsel

Breek die sjokolade in blokkies en gooi in ’n bak. Verhit die room tot kookpunt en gooi dit oor die sjokolade. Laat staan vir sowat 5 minute en roer dan sodat die sjokolade in die room in kan smelt. Die mengsel moet bietjie afkoel voordat jy dit rolletjies kan rol, anders rol hulle baie moeilik.

Sodra die mengsel bietjie afgekoel het, kan jy die rolletjies begin rol. Sit nou die deeg in ’n diamant vorm voor jou met die punt na onder en bo. Neem van die sjokolade mengsel en sit ’n teeleplel vol in die middel van die blokkie. Smeer die rante met die meel en water mengsel en vou die onderste punt oor die mengsel na bo. Vou volgende die kante in en smeer met nog bietjie van die meel mengsel. Rol op tot bo en dan behoort jy ’n rolletjie te hê.

Voorverhit olie op die stoof tot 180 grade en braai die rolletjies tot ligbruin. Partykeer bars die rolletjie oop maar dit is nie die einde van die wêrled nie. Haal dit net vinnig uit. Verwyder dan die rolletjies uit die olie en laat effens afdrip op kombuis papier.

Bedien met roomys van jou keuse. Niemand gaan ophou eet nie!