Thursday 27 March 2014

Gebreide plek- en drupmatjies




Gebreide plek- en drupmatjies
Grootte Plekmatjies 20 cm deursnee
Drupmatjies 10 cm deursnee

Jy benodig
• 1 x 50 g-bol Rowan-handbreikatoen elk in Sugar kleur no. 303, Bermuda kleur no. 324 en Nectar kleur no. 326

• oorskiet-dubbelbreidraad in teenstellende kleure
• Franse breiwerkpop
• dun hekelpen
• bypassende kleur masjiengare

Let wel
Franse breiwerkpoppe is te kry by goeie breidraadwinkels en in die handwerk- en stokperdjie-afdeling van sommige speelgoedwinkels. As jy nie een in die hande kan kry nie en jy kan ’n ou hout-garetolletjie kry, kap net vier klein spykertjies in die bokant van die garetolletjie sodat dit ’n vierkant vorm.

Spanning
30 ste = 10 cm oor ’n lengte Franse breiwerk. So gebruik jy ’n Franse breiwerkpop
1 Maak ’n skuifknoop en laat ’n stuk breidraad van omtrent 25 cm onderaan. Heg die knoop aan een van die ‘spykertjies’ aan die bokant van die pop en steek die punt van die breidraad deur die gaatjie in die middel af.
2 Trek aan die punt van die breidraad om seker te maak die skuifknoop is stewig geheg. Werk in ’n kloksgewyse rigting en draai die breidraad van die bol om die drie oorblywende spykertjies aan die bokant van die pop.
3 Draai die breidraad weer om die eerste spykertjie bokant die skuifknoop. Druk die breidraad by die spykertjie met jou duim vas en glip die breidraad met die oorspronklike knoop met die hekelpen oor die tweede draad. Neem die breidraad oor en van die spykertjie af. Hiermee is een steek voltooi.
4 Neem nou die breidraad na die volgende spykertjie, altyd in ’n kloksgewyse rigting. Gebruik die hekelpen, glip die pen in die eerste breidraad en bring dit oor die tweede breidraad en oor en van die spykertjie af. Die tweede steek is voltooi.
5 Gaan so voort om met die breidraad om die volgende spykertjie te werk en ’n nuwe steek te maak totdat om al vier spykertjies aan die bokant van die pop gewerk is. Hiermee is een ronde voltooi.
6 Gaan voort om in rondes te werk deur met die breidraad om die spykertjies te werk en die breidraad aan die onderkant van die spykertjie te verwyder om ’n nuwe steek te skep. Trek aan die punt van die breidraad soos jy werk om die steke te vestig. Jy sal oplet wanneer die lengte van die pop gewerk is, vorm die Franse breiwerk ’n hol buis.
7 As jy nuwe breidraad moet aanlas, knoop die twee punte aan mekaar en werk die punte weg in die middel van die buis af.

Plekmatjies
1 Gebruik die Franse breiwerkpop en breidraad A en maak ’n lengte Franse breiwerk van 560 cm.
2 Werk op ’n plat oppervlak en draai die Franse breiwerk in ’n rol. Begin van die middel na buite en werk die rol met netjiese glipstekies en ’n bypassende kleur masjiengare vas.
3 Kyk na die foto en weef ’n teenstellende kleur breidraad in lae oor en onder die rol deur van die middel af. Spasieer die steke eweredig om die rol.
4 Maak ’n stel van ses plekmatjies met twee in elke kleur. Pars die voltooide plekmatjies met ’n warm yster oor ’n klam lap. Drupmatjies Maak dit net soos die plekmatjies, maar maak die stuk Franse breiwerk net 140 cm lank.

(Idees)