Tuesday 11 March 2014

Druiwebrood met kruiebotter en moskonfyt-neute




Druiwebrood met kruiebotter en moskonfyt-neute

Hierdie oesbrood-resep van Johan Breedt en Mynhardt Joubert verskyn in die Kokkedoor-kookboek. Sit warm voor met kruiebotter en neute wat in moskonfyt verstroop is.

Vir die brood:
750 g koekmeel
2,5 ml sout
5 ml suiker
10 kitsgis

200 ml louwarm water
1 takkie roosmaryn
4 trosse rooi druiwe
’n klontjie botter

Vir die kruiebotter:
250 g botter by kamertemperatuur
6 stingeluie, fyngekap
5 ml braaispeserye

Vir die soet neute:
150 g okkerneute
100 ml moskonfyt
100 ml water

So maak mens:
Brood: Sif die meel, sout, suiker en gis saam. Giet die louwarm water by en meng goed. Voeg die druiwekorrels by en knie. Die druiwekorrels sal bars en die sap sal nog vog aan die deeg gee.
Bedek die deeg met kleefplastiek en laat op ’n warm plek staan totdat dit dubbel die grootte gerys het. Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n broodpan of ringkoekpan.
Knie die deeg af en plaas dit in die gesmeerde pan. Laat nog 30 minute staan om te rys. Bak 25 – 30 minute lank tot gaar en goudbruin.
Haal uit en verf die bokant met ’n klontjie botter.
Kruiebotter: Meng die sagte botter, stingeluie en speserye goed saam. Plaas dit in die yskas om ferm te word. Sny in blokkies en rol die botterblokkies om balletjies te vorm.
Soet neute: Meng al die bestanddele saam in ’n kastrol en laat kook totdat die mengsel dik is. Giet op ’n bakplaat en laat afkoel. Breek in stukkies.
Sit die warm brood voor met kruiebotter en soet neute.​