Friday, 25 October 2013

Tuisgemaakte vrugte-jellielekkers




Tuisgemaakte vrugte-jellielekkers
Maak: omtrent 50
Bereidingstyd: 30 minute, plus stoltyd

 
• 35 g gelatien
• 440 g suiker
• 150 ml vrugte-konsentraat
• 2 ml wynsteensuur
• omtrent 200 ml suiker om oor te sprinkel

SLIM IDEE

Halveer die resep en maak lekkers met twee lae deur twee verskillende geure vrugte-konsentraat te gebruik. Ons het koejawel en lietsjie gebruik. Laat die eerste laag stol voor jy die tweede laag maak, bo-oor gooi en ook laat stol.

1 Sprinkel die gelatien oor 170 ml water. Laat staan tot al die water geabsorbeer is.

2 Verhit die suiker, vrugte- konsentraat en 80 ml water saam oor ’n lae hitte en roer tot die suiker opgelos het.

3 Voeg die gelatien by en laat liggies prut vir omtrent 20 minute, tot ’n druppel van die mengsel op ’n koue piering tot ’n ferm jellie stol.

4 Haal van die plaat af en roer die wynsteensuur by. Gooi in ’n plastiekbak van sowat 20 x 10 cm en laat stol by kamertemperatuur.

5 Keer die jellie versigtig uit die bak; dit sal vassit, so werk stadig en sny dit van die een kant af met ’n stomp mes los. Strooi suiker oor jou werkoppervlak en sny die jellie in langwerpige stukke met ’n groot mes wat jy in kookwater gedoop het.

6 Rol die stukke in suiker en sny dit dan in blokkies. Bedek dit oraloor met suiker. Laat die lekkers vir ’n paar uur staan voor jy dit verpak.