Monday 7 October 2013

roospotpourri-resep




Roospotpourri het gewoonlik drie bestanddele: droë blomblare, speserye (naeltjies, kaneel, neut, gedroogde sitrusskil en vanieljepeule) en ’n geurdraer wat keer dat die vlugtige roosolies verdamp. Orriswortel is die algemeenste geurdraer, hoewel bensoïenhars, khuskhus (Vetiveria zizanoides), selfs droë laventel of sandelolie ook werk. Vullers word gebruik om kleur en volheid aan die mengsel te gee en kan enigiets van droë blomme en blare tot dennebolle en skulpe insluit.

Gerrit en Fransie se roospotpourri-resepDie Bloemfonteinse rooskweker, Gerrit van Tonder, en sy vrou, Fransie, sê jy kan enige kombinasie van vullers en speserye in die resep gebruik.
• 15 ml orriswortelpoeier (Iris florentina) as geurdraer

• 5 ml varsgemaalde naeltjies (opsioneel)
• 5 ml fyn speserye
• 2 vanieljepeule of 15 ml vanieljesaadjies (opsioneel)
• 15 druppels essensiële roosolie of ander essensiële olie van jou keuse
• 10 koppies gedroogde roosblare
Vullers• 1 koppie gedroogde Delphinium- of afrikanerblomblare
• 2 koppies gedroogde laventel
• 15 ml gedroogde mentblare
• 15 ml gedroogde suurlemoenskil
1 Meng die vullers, orriswortelpoeier en speserye.
2 Voeg die vanielje by die essensiële olie en giet dit oor bogenoemde.
3 Strooi dié mengsel oor die roosblare. Plaas dit vir 10 dae in ’n seëlbare houer sodat die geur kan ontwikkel; skud dit elke nou en dan.
4 Plaas die potpourri in ’n moeseliensakkie en verfris dit elke twee weke met ’n paar druppels essensiële olie.

Droog rose soPlaas rose in dun lagies op ’n koel, goed geventileerde plek. Gerrit sê: “Ek strooi die roosblomblare op velle koerantpapier op die vloer en sorg dat die vertrek se vensters oop staan.” Jy kan jou rose ook onderstebo ophang tot dit droog is.

Wenke• Soetamandelolie kan ook as geurdraer gebruik word wanneer orris nie beskikbaar is nie; of gebruik sellulose of laventel.
• Essensiële olies is by apteke en gesondheidswinkels te kry.
• Bruinpapiersakke, kussingslope en glashouers kan almal gebruik word om die potpourri in te bêre. Koop moeseliensakkies wat die geur sal deurlaat (of stik jou eie) en hang dit oral waar ’n lekkerruiksakkie waarde kan hê.
• Maak ’n potpourrisakkie deur ’n hand vol van die geurige mengsel in ’n kantsakdoekie toe te vou en die hoeke met ’n satynlint toe te knoop.