Wednesday 10 July 2013
Witbrood met tuisgemaakte gouestroop
Kokkedoor-Witbrood met tuisgemaakte gouestroop
Vir die bakdag- piekniek episode het Ida Klopper en Theresa De Vries hierdie broodjie gebak. Winkelwitbrood kan nooit kers vashou by ’n heerlike tuisgebakte broodjie nie. Maak daarby jou eie goue stroop vir ’n ware onthousmaak.
Bestanddele
500 g witbroodmeel
1 pakkie kitsgis
50 g gesmelte botter + ekstra gesmelte botter om oor die brood te smeer vir glans.
5 ml suiker
5 ml sout
Ongeveer 300 ml sterk lou water of melk en water gemeng
Metode
Plaas alle droë bestanddele in ‘n groot mengbak. Voeg die botter by die louwater en roer die helfte van die mengsel by die meel.
Voeg die res van die water bietjie vir bietjie by tot ‘n sagte elastiese deeg gevorm is..
Maak met kleefplastiek toe en laat rus op ‘n warm plek tot dubbel die grootte. Vorm ‘n brood en plaas in ‘n pan. Laat weer rys in die pan en bak by 200ºC vir 30 minute.
Smeer gesmelte botter oor vir glans.
Goue Stroop
Tuisgemaakte gouestroop is ‘n groot bederf. Jy kan self gourmet-gouestroop maak deur neute of sade daarby te voeg.
Bestanddele
6 x 250 ml suiker
500 ml water
5 ml kremetart
5 ml sout
Metode
Plaas alle bestanddele in ‘n kastrol en kook tot dit ‘n stroop vorm. As stroop afgekoel het, kan pistasieneute, haselneute, granaatpitte of ‘n vanieljepeul bygevoeg word.