Friday 12 July 2013

Ria se plantbakke





Hi Almal

Ons gaan eers hier begin want dis goedkoop om jou eie potte te maak.

Die resep vir jou bak is soos volg en die mate wat ek nou gee is om ‘n bak so groot soos ‘n kokketiel hok se onderstel te maak – sien die blou bak onder.

1.       Sement –  2 x 500g groote margarine bakkies vol. 

2.       Sand -       4 x 500g groote margarine bakkies vol

 3.    Water

 4.    Enige bak om as ‘n vorm te gebruik – sien onder

 5.    ‘n plastiese sak of swart vullis sak om die bak mee uit te voer.

                               


Metode: ( Gebruik ‘n ou skottel wat jy in die toekoms ook kan gebruik om die sement mengsel in te meng.)

Meng jou sement en sand soos hier bo aangewys met water maar wees versigtig want jy wil nie ‘n pap mengsel he nie… amper soos brood-deeg want onthou jy gaan die randte ook pak en dan wil jy nie he dit moet in duie stort nie.  So gooi water bietjie vir bietjie by en meng elke keer tot jy ‘n lekker stywerige klam maar nie droë mengsel het nie.

Bedek jou bak wat jy as ‘n vorm gaan gebruik met die plastiese sak. Moenie bekommerd wees as daar voue of kreukels is nie… dit gee karakter aan jou bak. Maak net seker dat die hele binneste van die bak bedek is….die randte ook. Die sak gaan die bak beskerm en ook help met die uithaal van die bak wanneer dit goed gedroog het. (so 12 tot 18 ure)  Hier volg die fotos om julle te help. Die dikte van jou bodem en randte moet so 8mm wees.. of sommer so dik soos jou wysvinger…. Veral vir groot bakke want dit gaan die grond gewig en plantjies met gemak moet kan dra. Vir kleiner bakkies kan jy so 5mm dikte pak.

Gee so 12 uur vir die bak om redelik te droog..  dan haal jy dit versigtig uit deur die plastiese sak eweredig te lig en dan op ‘n gelyk oppervlak te plaas sodat dit verder heeltemal kan uitdroog. As dit sonnig is sal dit sommer gou gou droog word. Maar moenie oorhaastig wees nie. Maak sommer ‘n paar bakke en los dat hulle droog…dan kan jy baie tuintjies namekaar maak..

Wanneer jou bak goed droog is gooi jy ‘n laag goeie grond onder… en dan as jy bietjie rivier grond in die hande kan kry kan jy dit bo oor gooi maar dis nie ‘n moet nie. Jou bak moet net mooi gevul word. En dan kan jy begin plantjies plant (verkieslik vetplantjies want hulle kort nie diep grond en baie water nie) en jou tuintjie uitlê na hartelus soos jy dit wil hê.

Maak vir jou klein goedjies uit dieselfde sement mengsel vir jou tuinjies… soos bruggies, dammetjies, bankies en tafeltjies. Onthou dit moet nie perfekte goed wees nie want dit gee karakter aan jou tuinjie… sien die voorbeeld hier onder van ‘n paar goed wat jy kan maak…

Ek gebruik sommer ‘n verf krapper om my bakke mooi gelyk te maak maar dis ook nie die einde van die wereld nie.  Onthou ook om ‘n dreineerings gaaitjie of twee onder in jou bak te maak terwyl dit nog nat is..

Voorbeelde van bakke wat ek al gemaak het is hier onder. 

Ek gebruik ook Woodok Gel Stain om die bakke net buite om te verf en gebruik sommer ‘n spons. Die goed kom in verskillende kleure en is eintlik vir hout bedoel maar werk goed op die bakke. Dieselfde Gel Stain gebruik ek om my trappies, plaveiseltjies, watervalletjies  ens te kleur..

Gebruik klein vetplantjies want dan groei hulle nie groot nie en word eintlik soos bonzaaitjies… Gebruik klippe en ou boombas of wat ookal om jou tuintjie te versier.  Die huisies maak jy ook sommer van die sement mengsel. Dis groot prêt .

As julle vashaak moet julle net vra maar ek glo ek het alles gedek.

Geniet en baie groete

Ria

NS.. Moenie by ‘n klippie of ‘n stokkie verby stap nie.. dit kan net weer iets vir die volgende tuintjie wees…. So tel dit op…. haha.

Dra maar van daai plastiese handskoene… die sement kan nogal jou hande vreet as jy te veel daarmee werk.