Crêpes (’n ryker pannekoek)
|
|
Deur: Heleen Meyer |
Hierdie is die perfekte resep as jy delikate, dun pannekoekies vir ’n soutvulsel, pannekoekgebak of as nagereg wil bak.
|
Bestanddele 140 g (250 ml) koekmeel knippie sout 3 ekstragroot eiers, geklits 50 ml olie 325 ml melk 50 ml koue water olie om pan mee te smeer
|
Metode 1. Sif meel en sout in ’n glasbak saam. Klits eiers en olie saam en meng geleidelik met die droë bestanddele tot ’n gladde pasta vorm. 2. Klits melk en water saam en voeg geleidelik by die meelmengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Klits deeglik na elke byvoeging. Moenie al die vloeistof op een slag byvoeg nie - dit sal te maklik klonte vorm. 3. Bak 40-50 ml deeg op ’n slag in 'n 20 cm of 24 cm pan tot die bokant van die pannekoek net stol en dit van die kante begin wegtrek. Draai om en bak aan die anderkant tot net goudbruin. Moenie die pannekoe te dik maak nie, dan smaak dit rubberig. 4. Keer op ’n bord uit of in ’n bak en hou oor liggies pruttende water warm.
Pannekoekwenke 1. Die olie in die beslag, maak dit onnodig om vir elke pannekoek olie in die pan te gooi. Hou die pan oor ’n matige hitte en smeer net wanneer regtig nodig. 2. Die resep kan maklik verdubbel word. 3. ’n Pannekoekbeslag kan vir tot een uur staan voor dit gebak word. Indien dit sou nodig wees, kan’n bietjie water of melk bygeroer word tot dit die regte dikte is. |