Monday 8 July 2013

Boontjiesop met biltongkluitjies





Boontjiesop met biltongkluitjies

 Dié dik, outydse boontjiesop is net wat jy nodig het as jy op ’n koue aand voor ’n kaggelvuur sit.

 Jy benodig:

 olyfolie of botter vir braai
 1 groot ui, gekap
 2 knoffelhuisies, fyngedruk
 2 selderystingels, gekap
 500 g gerookte varkskenkel, aan die been
 500 g beesvleissopbene

 2 groot wortels, gekap
 2 koppies suikerbone, oornag geweek
 4-6 koppies water
 1 eetlepel droë origanum
 1 blik tamatiepuree (410 g)
 2 blikkies (410 g) gekapte tamaties
 1 blokkie beesvleisekstrak

 VIR DIE KLUITJIES

 ¾ koppie koekmeel
 1 eetlepel mieliemeel
 1½ teelepels bakpoeier
 50 g biltongpoeier
 1 eetlepel botter
 ½ koppie melk
 1/3 koppie pikantrissies, fyngekap

 So maak jy:

 Verhit die olie in ’n groot swartpot of swaarboomkastrol en braai die uie, knoffel en seldery daarin sag. Voeg die vleis en wortels by.

 Spoel die geweekte bone goed af en voeg dit by die vleis. Bedek dit met 4 koppies water, verhit dit tot kookpunt en laat dit dan vir ongeveer 90 minute met die deksel op prut.

 Voeg die res van die bestanddele by en laat die sop vir nog ’n halfuur prut, of totdat die bone sag is en die vleis van die been afval. Voeg nog water by, indien nodig, en geur die sop met sout en peper.

 Maak die kluitjies: Meng al die droë bestanddele saam, vryf die botter daarby in en meng dan die melk en pikantrissie deur tot gebind.

 Verhit die sop weer tot by kookpunt en skep rondvol lepels deeg daarin. Verlaag die hitte en laat dit vir 10 minute met die deksel op oor baie lae hitte prut – dit moenie weer kook nie.