Friday 24 May 2013

Gerookte kaas-en-tamatie-souttert





 Hoe om ‘n souttert ’n moderne voorkoms te gee? Bak dit ’n ’n diep pan! Dit laat meer plek vir vulsel en gee meer mense kos! Dis eintlik ’n totsiens-tert, want alhoewel Casper en Aletta nie die ‘bordjie soet’-deel van die rondte geslaag het nie, was hul ‘bordjie sout bydrae’ - hierdie dieppan-souttert - lekker. As jy nie die kersietamaties self wil rook nie, kan jy vars tamaties gebruik. Dis ook ’n lekker ligte middagete saam met ’n kleurvolle slaai. En plaasbrood! Maak jou eie broskorsdeeg soos Casper of koop klaargemaakte broskorsdeeg.

Vulsel

5 hardgekookte eiers, uitgedop
1 bos seldery, fyn gesny
6 repies spek, bros gebraai
3 skyfies ham, gekap of in netjies blokkies gesny
1 rooi soetrissie, klokhuise verwyder en opgekap

1 geel soetrissie, klokhuise verwyder en opgekap
200g mozzarella, gerasper
200 g beleë cheddar of gouda
1 pakkie kersietamaties, tuisgerook of vars, elke tamatie halveer

Vla:

500 ml room
6 eiers
Sout en peper na smaak

1 rol broskorsdeeg

1. Ontdooi die deeg oornag in die yskas.
2. Voorverhit oond tot 180°C.
3. Voer ’n gesmeerde diepboom-koekpan met die kors uit.
4. Pak gekookte eiers op die bodem en strooi die res van die vulsel-bestanddele bo-oor.
5. Klits eiers, room, sout en peper saam en giet oor. Bak 50-60 minute tot deurgaar en goudbruin. Hou net dop dat die bokant nie te bruin word nie.
6. Garneer met vars kruie en bedien louwarm of afgekoel. Indien dit in die yskas gehou word, haal dit minstens ’n halfuur voor die tyd uit die yskas.