Wednesday 17 April 2013

PAMPOENBREDIE




(Dit lewer 8 porsies)

Voorkom dat die bredie waterig is, en gebruik 'n boerpampoen (plat en wit) of botterskorsie (butternut). Die vleis bly ferm.

2 groot uie, in ringe gesny
4 naeltjies
3 knoffelhuisies, gekneus
3 wonderpeperkorrels
3 stukke pypkaneel
knypie neutmuskaat

45 ml olie
1 kg skaapvleis, in blokkies gesny
125 ml kookwater of verhitte vleisaftreksel
2 kg ryp pampoen, geskil en in blokkies gesny
30 ml bruinsuiker
sout en varsgemaalde swartpeper
gekapte vars pietersielie vir garnering

1. Braai die uie, naeltjies, knoffel, wonderpeperkorrels, kaneel en neutmuskaat in helfte van die olie in 'n groot kastrol totdat die uie sag en deurskynend is.
2. Voeg die res van die olie en die vleis by en braai tot bruin.
3. Voeg die kookwater of aftreksel by, bedek en prut vir 30 tot 40 minute lank totdat die vleis halfpad gaar is.
4. Voeg die pampoenstukkies by, roer deur en bedek met 'n digsluitende deksel. Laat prut totdat die pampoen sag is en die meeste van die vloeistof verdamp het.
5. Geur na smaak met suiker, sout en peper.
6. Strooi die pietersielie oor net voordat die bredie voorgesit word. Dien op met rys.