Friday 12 April 2013

Hetta se bene-pastei

Hetta se bene-pastei


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
In die eerste episode kon die deelnemers vrylik die ikoongereg “lamspastei” interpreteer met hul eie skeppings. As inspirasie het Kokkedoor-beoordelaar Hetta van Deventer haar weergawe van ‘n outydse bene-pastei gedemonstreer. Lamspastei is reeds in Lady Ann Barnard se tyd  so gemaak met die beentjies na bo.

Porsies: 6

Suurroom deeg

100 g botter
150 g koekmeelblom
125 ml (½ k) suurroom


Sny die botter in dobbelsteentjies en pols saam met die meel in ‘n voedselverwerker tot dit die tekstuur van fyn broodkrummels het. Voeg die suurrroom in, druk die deeg liggies bymekaar totdat dit ‘n deegbal vorm. Draai in kleefplastiek toe en laat rus vir 20min.

Vulsel

1 ui grof gekap
4 wortels, geskil en grof gekap
4 rape, geskil en grof gekap (opsioneel)
Olie of botter vir soteer
2 lamsrakke  van 6 bene elk, bene netjies skoongemaak volgens die Franse manier
1 takkie vars roosmaryn
30 ml fyn koljander
1ml kruienaeltjies
5ml neutmuskaat
5ml kaneel
Sout en peper na smaak
250ml lamsaftreksel (of bees/groente)
1 geklitste eiergeel om kors mee te borsel

Smelt botter in swaarboom pan. Soteer die ui, wortels en rape in botter tot verbruin en net effens gaar, dit moet nog kraak as jy deur dit byt. Skep dit uit en sit onder in ‘n pasteiskottel. (‘n vierkantige skottel van so 24 x 24 cm sal werk). Vryf nou die 2 lamsrakke in met die kruie en speserye. Braai tot bruin aan die vetkant in die pan. Skep die lamsrakke in die middel van die pasteiskottel, tussen die groente. Rangskik dit so dat die bene bo tussen mekaar vou. Voeg aftreksel by  - dit moenie te veel wees nie, dit moet net genoeg vloeistof wees vir die groente en vleis om te stoom, maar nie te veel sodat die pasteikors nat word nie.

Rol pasteikors dik uit op meelbestrooide oppervlakte - 5mm of effens meer. Bedek die vleis en groente met pasteikors, vou die kors netjies rondom die bene en maak seker dat dit  tot oor die kante van die pasteibak vou. Borsel met geklitste eiergeel.  Bak by 220°C totdat die kors goed bruin is bo-op.

Sny vir elke porsie 2 bene en van die deeg met groente.