Wednesday 10 April 2013

Basaarpoeding (3 soorte)



Groen poedingMaak 2 pakkies groenpruim-jellie aan volgens die aanwysings op die pakkie. Sit dit in die yskas tot dit net-net begin stol. Meng ’n blik kondensmelk en 100 ml melk by die jellie in en sit dit weer in die yskas om heeltemal te stol.

SneeupoedingSprinkel 22,5 ml gelatien oor 60 ml water en laat dit uitswel. Verhit 250 ml water tot dit begin prut, voeg die gelatien by en roer tot dit smelt. Voeg 250 ml suiker, 60 ml suurlemoensap en die skil van 1⁄2 suurlemoen by. Gooi die mengsel in ’n groot bak en laat dit eenkant afkoel. Klits dit met ’n klitser tot dit sponserig is sodra dit amper gestol het. Klits 2 eierwitte styf, voeg die gelatienmengsel by en vou dit liggies in. Sit die bak in die yskas tot die poeding gestol het. Sit dit voor met vla.

Koejawel-skuimMaak 2 pakkies suurlemoen-jellie aan volgens die aanwysings op die pakkie. Sit dit in die yskas tot dit net-net begin stol. Gebruik ’n elektriese klitser om ’n blik yskoue ingedampte melk te klits tot dit baie skuimerig is. Voeg die jellie by terwyl jy heeltyd klits. Sit dit vir omtrent 30 minute in die yskas. Dreineer 2 blikke koejawels. Kap die koejawels fyn en roer dit by die res van die poeding in. Sit dit terug in die yskas om heeltemal te stol.