Thursday 14 March 2013

Sagte crunchies




Hierdie “crunchies” (skurwejantjies) is sagter as die gewone hardes. Dis ook propvol hawermout en vrugte. Benewens as ’n ontbytkos dien hawermout ook as ’n heerlik bestanddeel in gebak, veral in brode en koekies. Hierdie crunchies kan ook vries, alhoewel daar nie veel sal oorbly om te vries nie!

Sagte crunchies

Lewer omtrent 25 blokkies
250 ml (1 k) bruismeel
125 ml (½ k) klapper
200 ml (¾) gerolde hawermout
200 ml (¾ k) sagte bruinsuiker
200 ml (¾) pitlose rosyne
125 ml (½ k) sultanas
125 g botter of margarien
60 ml (¼ k) goue stroop
5 ml (1 t) vanieljegeursel
2 ekstragroot eiers

Metode

1. Sif meel in ’n mengbak. Voeg klapper, hawermout, suiker en droë vrugte by.
2. Smelt botter en goue stroop saam in ’n mikrogolfoond of swaarboomkastrol. Verwyder van hitte en voeg geursel by.
3. Klits eiers goed saam. Voeg die bottermengsel en eiers by die droë bestanddele. Meng goed en druk in ’n gesmeerde pan van ongeveer 20 cm x 24 cm. Druk effens plat bo-op.
4. Bak vir 25 – 30 minute in ’n voorverhitte oond by 180 °C tot gaar of goudbruin. Laat effens afkoel. Sny in blokke en plaas in ’n ligdigte houer.
Variasie
Vir ’n mooi kleur, voeg 60 ml (¼ k) grofgekapte verglansde rooi of groen kersies by.