Wednesday 27 February 2013

Wortelkoek vir Paasfees

Hierdie resep lyk nie soos die koek op die foto nie (Hierdie een kom donkerder uit), maar ek plaas die fototjie hier by sodat dit jul 'n idee gee van hoe om te versier vir Paasfees.  Die Paashaas sal beslis van so 'n wortelkoek hou.......
  • 500 ml suiker
  • 4 groot eiers
  • 3 ml vanieljegeursel
  • 375 ml sonneblomolie
  • 500 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 10 ml koeksoda
  • 10 ml fyn kaneel
  • 5 ml sout
  • 750 ml wortel, gerasper
  • 200 ml fyn klapper
  • 250 ml okkerneute, gekap
  • 250 ml geblikte fyn pynappel, gedreineer
Versiersel
  • 125 g botter, sag
  • 500 g versiersuiker
  • 250 g roomkaas
  • 5 ml vanieljegeursel
  • ekstra gekapte okkerneute vir bo-oor sprinkel
Verhit oond tot 180 °C. Smeer twee 23 cm-koekpanne met bietjie botter en voer met bakpapier uit. Klits suiker, eiers en vanieljegeursel saam en voeg olie geleidelik by. Sif meel, bakpoeier, koeksoda, kaneel en sout saam en meng by die eier-en-suikermengsel in. Voeg die gerasperde wortel, klapper, okkerneute
en pynappel by beslag. Gooi in voorbereide koekpanne en bak vir ongeveer 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat afkoel in die panne. Vir die versiersel Room botter in ’n voedselverwerker en voeg helfte van die versiersuiker geleidelik by. Klop tot lig en romerig. Voeg roomkaas by en meng by lae spoed. Voeg laastens res van versiersuiker en vanieljegeursel by. Meng slegs tot alles goed deurgemeng is, anders raak die versiersel loperig. Keer koeke uit panne en verwyder bakpapier. Smeer een koek met helfte van die versiersel. Plaas die ander koek bo-op en smeer met die oorblywende versiersel. Sprinkel gekapte okkerneute bo-oor. (Sarie)