Monday 4 February 2013

Omelet met gerookte salm en avokado-suurroom



Vir 2.

1 klein avocado
15 ml suurlemoensap
50 ml suurroom
3 eiers
3 eetl. (45 ml) water of melk
10 ml ligte olyfolie
5 ml botter / margarine
sout, varsgemaalde swartpeper
80 g gerookte salm, in repies of gerookte gepeperde forel, gevlok
vars dille of gedroogde dille

Sny die avokado in blokkies, meng met die suurlemoensap en suurroom. Druk van die avokadoblokkies fyn om dit effens te verdik. Geur met sout en swartpeper.
Klits die eiers en water saam. Verhit die olie in 'n braaipan en voeg die margarien by. Die pan moet baie warm word. Dis gewoonlik gereed as die margarien klaar geborrel het en begin stil word. Gooi die eiermengsel in. Trek dan die eier van die kante af in en laat die lopende eiermengsel daarin loop. Doen dit totdat al die rou eier in is. Geur met sout en varsgemaalde swart peper. Braai totdat dit net-net gaar is.
Skep die gevlokte, of repies, vis op die een helfte. Skep die avokado-suurroom bo-op. (Jy kan van die avokado-suurroom uithou om saam met die omelet te bedien.) Vou die omelet in die helfte. Strooi dille oor. Deel in 2 en dien dadelik, warm op.

(Ek het al tuna ook in die plek van die salm gebruik)