Monday 4 February 2013

Geskenke vir min geld

Nataniël het op 'n keer geskryf dat daar geen rede onder die son bestaan om NIE geskenke uit te ruil nie.  Geen finansiële verknorsing moet jou weerhou van geskenke gee nie.  Dis 'n heerlikheid van ontvang en gee wat geen mens in die lewe moet mis nie, en ek stem saam.
Ek het al meer as een keer gehoor:  "Ek kan nie by jou kom kuier op jou verjaarsdag nie, want ek kan nie 'n geskenk koop nie."  Dit het my nogal in die gesig gevat.  Van wanneer af nooi mens dan vriende na jou verjaarsdag net om geskenke te ontvang?  Is die idee van ietsie kleins en die saamwees nie veel beter as die idee van nie 'n siel wat omgee nie?  Wat het geword van die dae toe ons oumas sommer 'n potjie iets uit die spens kon gee as geskenk?  'n Ietsie selfgemaak wat met groot waardering ontvang was...  Wel hier is raad as jy begroting knap is en dit begin alles by 'n glas potjie:


Stap 1:  Kry 'n glas pot.  Enige glas potjie sal doen.  'n Leë kontyf potjie of 'n leë koffie glaspotjie kan ook werk, maar jy kan pragtige splinternuwe glas potjies in die winkels koop vir somtyds onder R10.
Stap 2:  Maak hom vol.  Hier kan jy jou verbeelding gebruik en dit vol maak met enigiets waarvan die ontvanger sal hou.  Selfs net 'n potjie vol peppermente kan pragtig en baie baie spesiaal lyk met die regte versiering daarby.  Jy kan koekies daarin sit (as jy nie self kan bak nie, koop 'n pakkie koekies en gooi dit oor in die potjie - dit hoef nie duur te wees nie).  Jy kan konfyt daarin sit wat jy self dalk gekook het.  Jy kan koffie daarin sit vir 'n koffie liefhebber of 'n verskeidenheid tee sakkies vir 'n tee liefhebber.  Die moontlikhede is eindeloos.  (NS:  Hier is op ons blad onder Inmaak en preserfeer maklike inmaak resepte wat enige iemand met sukses binne 'n paar minute kan saamslaan.)
Stap 3:  Versier met 'n strik.  Hoe mooier en vroliker hoe beter.  Maar jou strik moet pas by die inhoud van die potjie.  As jy konfyt daarin sit wat jy dalk gekook het, kan 'n rafia lint werk, maar as jy knopies vir 'n moeder wat hou van naaldwerk, daarin sit, sal 'n mooi materiaal lint baie spesiaal lyk.  Ag eintlik lyk enige geskenk met 'n materiaal lint daarom sommer stukke beter en meer spesiaal.

Nou ja.  Daar het jy dit.  3 Stappe tot 'n goedkoop maar baie spesiale geskenk.......uit die hart.