Thursday 24 January 2013

Verras jou gaste met 'n mooi badkamer

Verras jou gaste met 'n mooi badkamer.  Jy kan jou badkamer verfraai en oulike goedjies doen sonder dat dit jou 'n klomp geld kos.  Hier is 'n idee of twee van hoe jy jou badkamer goedkoop kan mooi maak vir gaste:

1)  In plaas van daardie lelike ou Amoniak bottel wat rondstaan waarmee die bad skoongemaak moet word, maak dit deel van jou dekor.  Ja jy het reg gehoor.  Sodoende gaan die gaste dit sommer ook gebruik sonder dat jy daaroor hoef bekommerd te wees.  Kry 'n mooi leë glasbottel en gooi die Handy Andy of bad skoonmaak middel daarin.  Druk dan vir jou 'n mooi etiket op die rekenaar uit wat by jou dekor pas met die woorde "Bad Glinster" daarop.  Jy kan selfs in 'n fyner skrif onderaan tik:  "Die bad sal glimlag as jy hom hiermee was."  - sommer so 'n pret stukkie.  Met 'n lint of kraletjies dalk om die nek van die bottel, is dit nou 'n uitstal stuk en deel van die dekor.

2)  Gaste is baie keer "te bang" om jou "Bubblebath" te gebruik selfs al sit jy dit spesiaal vir hulle uit.  Hulle weet nie altyd of dit net vir die mooi uitgesit is of spesiaal vir hulle nie.  Weereens kry 'n mooi glas potjie en gooi dit vol heerlike badskuim.  Sit 'n lint om die nek van die potjie en sit jou self gedrukte etiket daarop, dalk met die woorde:  Bubblebath -Gebruik my met liefde.