Wednesday, 12 December 2012



Genoeg vir: 8

• sowat 2 kg beesfilet
• 75 ml pesto
• 250 ml sondroogtamaties in vinaigrette, gedreineer
• 'n hand vol babaspinasieblare
• 160 g parma- of swartwoudham
• sout en varsgemaalde swartpeper

1 Sny die filet driekwart in die lengte deur met 'n skerp mes en vou dit oop soos 'n boek. Dis belangrik om dit nie heeltemal deur te sny nie, anders gaan jy moeilik werk. Druk liggies op die vleis om dit plat(ter) te kry. Smeer die pesto oor die vleis. Voer die een kant van die vleis met die spinasieblare uit en sprinkel dan die sondroogtamaties oor. Vou die filet toe en druk dit liggies om die vorm terug te kry.

2 Pak die skyfies parmaham langs mekaar op 'n skoon werkoppervlak. Lig die filet versigtig op en sit dit in die middel bo-op die ham. Vou die dun punt van die filet terug. Vou die parmahamstroke oor die filet en bind die filet elke 1 cm vas met tou.

3 Braai die filet sowat 20-30 minute oor matige kole of tot dit so gaar is soos jy dit wil hê. Laat die vleis 15 minute rus voordat dit voorgesny word.

Wenk: Jy kan die filet ook in netvet toedraai - dit gee 'n delikate gerookte geur aan die vleis. Week die netvet in louwarm asynwater. Verwyder alle senings, smeer die vleis met 125 g sagte botter en geur dit met sout en swartpeper. Druk die netvet droog en draai die vleis daarin toe (steek dit met peuselstokkies vas, indien nodig). Maak die filet gaar soos hierbo, verwyder die netvet, peuselstokkies en tou, en sny die vleis in skywe.