Sunday 18 November 2012

Warm kaas en kruie skons.

Jeanette van den Berg
Dié warm skons is heerlik vir ontbyt of 'n ligte aandete. Die vars kruie maak dit baie geurig. Jy kan dit nog verder geur met gebraaide spekstukkies of gekapte songedroogde tamaties.
30 g (125 ml) gemengde vars kruie (orego, basilliekruid, salie, grasuie, pietersielie)
280 g (500 ml) koekmeel
20 ml bakpoeier
2 ml sout
1 eier
150 ml melk
25 ml sonneblomolie
Vir die kaasbolaag
125 g margarien / botter
50 g gerasperde mozzarellakaas
75 g gerasperde cheddarkaas
5 ml mosterdpoeier
knippie rooipeper
Voorverhit die oond tot 200 ˚C.
Die resep begin by die versameling vars kruie in my tuin. 30 g is so ongeveer drie hande propvol kruie.
Dit sal seker met gedroogde kruie ook kan werk – tussen 5 en 10 ml.
Spoel die kruie af en kap fyn. Hou eenkant.
Sif die droë bestanddele in 'n groot mengbak. Voeg die gekapte kruie by en meng deur die meelmengsel. Klits die nat bestanddele saam. Sny dit met 'n mes in tot gemeng. Plaas die deeg op 'n blad. Om dit makliker te hanteer, strooi meel op die deegplank. Druk 11 - 12 skons uit met 'n drukker van 6 cm in deursnee. Plaas in 'n gesmeerde bakskottel van 23 cm. Die skons pas teen mekaar in.
Smelt die margarien. Roer die kaas by. Voeg die mosterdpoeier en 'n knippie rooipeper by. Versprei dit oor die skons. Bak die skons vir 15 - 20 minute.
Nadat die skons in die oond geplaas is maak jy 'n heerlike groot pot perkuleerkoffie. Die huismense sal vanself naderkom met die heerlike reuk van kruieskons en varsgemaakte koffie. As dit nie gebeur nie, moet jy dalk 'n lekkerder soort koffie koop of ander huismense aanskaf!