Monday 29 October 2012

Glasflesse idees met bakmengsel




Bakmengsels uit jou deli - 2 voorbeelde uit Idees Tydskrif

Bederf jou geliefdes met pragtig verpakte geskenke uit jou eie kombuis.

Gooi al die droë bestanddele vir dekadente sjokolade-brownies of gesonde ontbyt-muffins laag op laag in ’n fles en sit die resep daarby. Dis ’n goeie geskenk vir iemand wat graag bak, maar nie baie tyd het nie.

Dekadente sjokolade-brownies
Sif 310 ml koekmeel, 5 ml bakpoeier en 2 ml sout saam. Gooi in ’n fles met lae van die volgende: 165 ml kakaopoeier, 250 ml bruinsuiker, 200 ml witsuiker, 125 ml grofgekapte pekanneute en 125 ml witsjokolade-splinters.

Skryf op ’n kaartjie Gooi die inhoud van die fles in ’n mengbak. Verhit die oond tot 180 ˚C. Smelt 250 ml botter, laat afkoel en klits vier groot eiers by. Roer by die droë bestanddele. Gooi in ’n gesmeerde en gevoerde koekpan van 30 x 20 cm. Bak vir 25 minute en laat heeltemal afkoel. Sny in blokkies.

Gesonde ontbyt-muffins
Sif 375 ml koekmeel, 10 ml bakpoeier, 1 ml koeksoda en 1 ml sout saam. Gooi in ’n fles met lae van die volgende: 250 ml gougaar hawermout, 125 ml bruinsuiker, 250 ml gekapte gemengde droëvrugte, byvoorbeeld pynappel, goji-bessies, kersies of nektariens, en 60 ml gemengde neute en sade.