Thursday 5 July 2012

Plaatkoekies met piesangs, neute & kaneel


Plaatkoekies met piesangs, neute & kaneel, lekker om te maak met die kinders se hulp (RSG)

Bestanddele

30 ml (2 e) suiker
280 g (500 ml) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
2 ml sout
2 ekstra-groot eiers
500 ml (2 k) karringmelk
60 ml (4 e) botter, gesmelt
olie vir braai
3 - 4 piesangs, in skyfies gesny
50 g pekanneute, grof gekap
gemaalde kaneel en heuning om mee voor te sit


Metode

1. Sif die droë bestanddele in ’n mengbak saam. Klits die eiers en karringmelk saam en maak ’n holte in die middel van die meelmengsel.
2. Klits die eiermengsel by die meel tot ’n gladde beslag vorm. Wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, want dit kan die plaatkoekies swaar maak. Roer die botter goed deur.
3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Skink 30-50 ml deeg per plaatkoekie in die pan – afhangend van hoe groot dit moet wees.
4. Braai vir ’n paar minute tot lugborrels bo-op vorm en draai versigtig met ’n eierspaan om. Braai tot goudbruin en gaar aan die ander kant. Hou die plaatkoekies warm, terwyl die res gebak word. Voeg nog olie in die pan by soos nodig, maar moenie dit te warm maak nie, anders brand die plaatkoekies voor dit gaar is.
5. Sit die plaatkoekies met die piesangskyfies, neute en kaneel voor en drup ’n bietjie heuning oor.

Wenke:
1. As ’n southappie: Roer 30 ml gekapte dille of grasuie by die beslag en braai soos hierbo. Sit as ligte maaltyd met tuna, forel of salm en gladde maaskaas voor.
2. Vir ontbyt: rasper twee appels grof en roer met 80 ml gedroogde bosbessies of rosyne en 7,5 ml gemaalde kaneel by die beslag. Gemaalde gemengde speserye is ook lekker.
3. Met bessies: Roer 100-125 g vars of bevrore bloubessies, ontdooi by beslag en bak soos hierbo. Sit met kaneel, neute en heuning voor. Ongegeurde jogurt is ook lekker hierby – vir ontbyt of selfs as nagereg.