Tuesday 5 June 2012

Bloeisels en blomme vir laat winter en lente

Dalk was jy so gelukkig om nou die Cherry Blossom Festival in Japan te kon beleef gedurende Maart of April, of dalk droom jy soos ek maar net daarvan.  Dis ongelooflik mooi wanneer mens so na die prentjies kyk van al die lente bloeisels en jy kan jou maar net indink hoe heerlik dit sal wees om daardie hoeveelheid bloeisels alles op een slag aan een boom te kan aanskou…….dalk in jou eie tuin.

Wel, in SA is Mei maand die regte tyd om bome te plant, maar jy kan Junie nog heel suksesvol bome in jou tuin plant.  So waarom nie dink aan ‘n boom of struik wat vir jou lentebloeisels in oorvloed kan gee nie? 

Japanese blomkersie, Asaleas en Magnolias is pragtig en wat van blompruime en blomperske bome.  Vrugtebome soos perske en pruim sal definitief vir jou pragtige bloeisels in die lente gee en dan het jy nog die beloning van vrugte daarna.  Bietjie meer eie aan ons land is ons pragtige Proteas, Ericas en Speldekussings.

As jy plek het vir ‘n rankplant kan jy dink aan Wisteria (blou reen) – shjoe dis darem mooi wanneer al daardie blomme so in oorvloed hang oor ‘n raamwerk.  Natuurlik moet jy ook nie jasmyn vergeet met sy heerlike reuk nie.

So maak gou voor die ysige winter weer begin en kry gou daardie boom of struik vir die lente in die grond.  Jy sal nie spyt wees nie.