Monday, 28 May 2012

Lensiesop met beesvleis

Jeanette van den Berg
 
Bestanddele

400 g bees-skenkel
45 ml (3 E ) olie
2 uie, gekap
10 ml (2 t) kerriepoeier
1,5 liter (6 k) water
45 ml (3 E ) Ina Paarman-beesaftrekselpoeier
4 groot, ryp tamaties, geskil en gerasper
30 ml (2 E ) Ina Paarman-songedroogde tamatiepesto
10 ml (2 t) suiker
250 g rooi lensies
Ina Paarman se rissie-en-knoffelgeursel
Paar vars koljanderblare, gekap


“My man is ’n sopeter. Hy glo aan die ou gesegde – as jy moet kies tussen sop en die liefde – kies die sop! Dié resep is een van sy gunstelinge. Ons maak dit in groot hoeveelhede en vries dit in ons leë pastasousbotteltjies. Hy was onlangs in die hospitaal en ek moes elke aand vir hom ’n botteltjie sop saamneem. Hy glo dit het hom gesond gemaak – eerder as die dokter se medisyne.“ – Ina

1. Braai die vleis in die olie bruin en skep op ’n bord uit. Braai die uie in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die kerriepoeier by en braai vir 30 sekondes. Voeg die water, aftrekselpoeier, tamaties, tamatiepesto, suiker, lensies en bruingebraaide vleis by en verhit tot kookpunt.

2. Prut baie stadig oor lae hitte vir ongeveer twee uur. Geur na smaak met rissie- en-knoffelgeursel en voeg ’n handvol vars koljander by.

3. Roer deur en skep in warm bakkies. Drup ’n bietjie olyfolie oor en rond af met ekstra vars koljander. Genoeg vir vier tot ses mense.

Die geur van die sop verbeter as dit ’n rukkie staan. Dit kan vir tot drie dae in die yskas gehou word en vries ook goed