Tuesday, 29 May 2012

4 Jaar oud en trots op haar eerste oes

‘n Ware verhaal uit ons familie boeke (2012):
‘n Mamma in ons familie gee vir haar vierjarige dogtertjie ‘n paar tamaties om mee te speel in haar pophuis.  So, dink sy seker, kan die kind maar kosmaak met die tamaties en sal dit haar besig hou.  Die tamaties het nie juis bruik in die kombuis vir die dag nie en dogtertjie wil graag “kosmaak” vir haar teddiebere.


Julle kan seker nog onthou hoe lekker dit is om regte kos of koekies uit die kombuis te kry waarmee jy kan "kosmaak" vir jou teddiebere en poppe.....
Wel, ‘n rukkie (heelwat daggies) later word daar in die tuin geskoffel en mamma sien tot haar verbasing dat daar skielik agter die pophuis reuse tamatieplante groei.   Tamaties wat sy nog nooit in haar tuin geplant het nie, so waar sou hulle nou so skielik vandaan kom?
Jip.  Reg geraai.  Dogtertjie het die tamaties gaan plant.
Wel hier is die foto as bewys.  Die tamaties het pragtig gegroei en die resultate spreek van self. 
Dit wys julle net mens is nooit ooit ooit te klein om jou eie tuin te begin nie en ook te leer dat as jy ‘n paar saadjies in die grond gooi, kan jy goed groei wat vir jou kos kan wees. 
Leer jou kind van klein tyd af om ‘n eie kombuistuintjie te groei en sy mag jou dalk op jou oudag verras met kos uit haar tuin…..