Wednesday 18 April 2012

papier-mâché






















Papier-diertjies
Ons wys jou hier stap vir stap hoe ons die papier-mâché-hase te maak.
Jy benodig
• patrone vir haas se ore, arms en bene
• ongedrukte koerantpapier, in klein stukkies geskeur
• ou boekblaaie, in klein stukkies geskeur
• ballonne en ballonpompie

• kouelym
• mengbakkies
• kwaste
• dun draad
• draadtang
• handwerkverf
• bruin papier-plakband (‘gum tape’ – jy maak dit nat om te plak)
• oorskietstukkies materiaal en lint of koord vir die klere
• dun tou of breidraad
• borduurgare en -naald
• masjiengare en naald
• kartelrandskêr en gewone skêr
1 Beplan hoe groot jy jou papier-mâché-pop wil maak en hoe hy min of meer gaan lyk. Ons pop is 15 cm lank. Ons het ’n klein lang ballon vir die kop en lyf gebruik (die soort waarmee jy ballondiertjies maak), maar jy kan ook groter ballonne gebruik.





















2 Blaas die ballon tot die regte grootte op. Draai die boonste gedeelte van die ballon ’n paar keer in die rondte en bind ’n stukkie tou daarom vas om die kop te vorm. Knip die tou se punte af.






















3 Meng drie dele kouelym met een deel water in ’n bakkie. Verf die gommengsel oor ’n gedeelte van die ballon en plak stukkies ongedrukte koerantpapier daarop vas. Verf nog gom bo-oor. Hou so aan tot die hele ballon bedek is en laat droog word. LET WEL Moenie die papier met ’n skêr knip nie, want dit plak nie so egalig soos geskeurde papiertjies nie.






















4 Terwyl jy wag dat die papier droog raak, kan jy die haas se arms, bene en ore uit die dun draad buig. Gebruik ons patrone as ’n riglyn. WENK Jy kan ook ballonne, pypskoonmakers of strokies opgerolde papier gebruik om die dele te vorm.

























5 Plak stukkies papier oor die ore, voete en hande en plak nog ’n laag oor die lyf indien nodig. Laat die papier goed droog word.





















6 Plak die draaddele met papier-plakband aan die lyf vas. LET WEL Dié plakband werk die beste, want ander soorte kleefband trek los as dit nat raak. Skeur dan lang strokies papier wat jy om die bene en arms kan draai en plak dit met gom vas. Vir die voete kan jy ’n stukkie papier opfrommel en bo-op die voet vasplak. Plak dit dan met stukkies papier toe.






















7 Voltooi die hele lyf so en versterk die arms, bene en ore waar dit aan die lyf sit. Plak ook die plakband met stukkies papier toe. Laat oornag droog word.






















8 Plak nou stukkies van die boekblaaie oor die hele lyf soos voorheen en laat goed droog word.





















9 Knip intussen die patroondele vir die haas se rokkie met jou kartelrandskêr uit. Ons s’n se boonste deel is 25 x 6 cm en die onderste een 25 x 7 cm sodat dit effens uitsteek onderaan. Werk die twee stroke met hul verkeerde kante na mekaar toe aan hul kort sye aan mekaar vas en dop dit na die regte kant toe om. Ryg ’n ry steke aan die bokant van die rokkie sodat jy dit later kan intrek. Knip ook die binneste dele vir die ore uit en knip die lint of koord sodat dit soos ’n beltjie om die lyfie sal pas. Ons het nog ’n lengte geknip vir die rokkie se bandjies. Die oë, neus en mond het ons met borduurgare op ’n boekblaai vasgewerk en toe die verskillende dele uitgeskeur om op die gesiggie te plak. Plak ook die materiaal-ore in posisie vas en laat droog word.






















10 Meng ’n bietjie handwerkverf in die kleur van jou keuse en verf ’n baie dun lagie oor die hele pop sodat die gedrukte teks nog deurskyn. Ons het ook die voete pienk geverf. Sodra die verf droog is, kan jy die pop se rokkie aantrek en die rygsteke om die middel intrek. Werk die beltjie bo-oor vas, vou die koord vir die bandjies dubbeld en werk dit ook vas.






















Pappa Haas se oorbroek




Jy benodig
• patroon
• oorskietstukkie gestreepte katoenmateriaal 2
• effekleur materiaal vir die sak
• ’n stuk geweefde lint
• teenstellende kleur masjiengare
• stringborduurgare in groen, oranje en bruin
So maak jy
1
Vergroot die patroon vir die oorbroek op bladsy 116 tot die verlangde grootte. Knip een voorpantdeel en een agterpantdeel uit die gestreepte katoen- materiaal. Knip ’n vierkant uit die effekleur materiaal vir die sak op die borsstuk van die oorbroek.
2 Dis die maklikste om die wortelmotief eers op die sak te borduur voordat die patroondele aan mekaar gewerk word. Gebruik twee draadjies borduurgare en borduur die wortel en stingel met netjiese satynsteke.
3 Werk die geborduurde sak met omkapsteek en bruin gare op die borsstuk vas. Met die regte kante van die materiaal teen mekaar, werk die buite- en binnebeennate toe. Jy kan dit met die hand of die masjien doen. Dop na die regte kant toe om.
4 Vou die naattoelating om die borsstuk en by die middellyf van die agterpant na die verkeerde kant toe om. Werk die nate met die teenstellende kleur gare vas. Laat die some aan die onderrande van die broekspype net so.
5 Pas die oorbroek aan die haas, knip twee stukke lint wat oor die skouers pas vir die kruisbande en werk dit met ’n kruissteek aan die borsstuk en die middellyf vas.























Varkie-kind

Sy lyf is van ’n klein waterballon gemaak en sy ore en stert is met draad gevorm. Vir die pote en snoet het ons papier in ’n bolletjie gerol en aan die lyf vasgeplak. Versier hom verder soos die hase. Wenk As jou varkie se neus te swaar is en hy val die heeltyd vooroor, plak ’n swaar voorwerp soos ’n wasser onderaan die varkie vas om hom swaarder te maak. Bedek die wasser met papier.