Tuesday 24 April 2012

Moedersdag: Groen geskenk wat aanhou gee

As jou ma lief is vir tuinmaak en plante, sal sy hou van hierdie geskenkie wat sommer heeljaar deur vreugde sal gee:

Deesdae kan mens mandjies teen redelike pryse koop by goedkoop winkels.  Kies 'n mandjie waarin so 3 plantjies sal pas. (Of natuurlik meer as dit jou sak pas.)  Gedurende April is daar ook heelwat kwekerye wat plant uitverkopings hou, so hou dop vir 'n uitverkoping en soek dan gesonde plantjies uit waarvan jou ma sal hou en wat mooi in die mandjie sal pas. 
Jy kan die mandjie dan afrond met klein "ekstra-geskenkies" as jy wil, bv. tuin handskoene, 'n snoeiskêr, saadjies vir die blombedding of selfs 'n handeroompie vir 'n bederfie na die tuinwerk.  Rond die mandjie af met 'n mooi materiaal strik en jy is gereed vir Moedersdag.

Jou ma sal heeljaar aan jou dink wanneer die plantjies in haar tuin, of op haar stoep, floreer.