Friday 16 March 2012

Wenke vir 'n plante inkopie uitstappie oor die naweek

Wanneer jy na die tuinsentrum / kwekery gaan, onthou die volgende wenke/ “tips”:


1)       Moenie net een plantjie koop van ‘n soort nie. 
(Bv.  Jy sien ‘n pragtige struik wat oortrek sit met blomme en dit steel jou hart, maar as jy net een van hom in jou tuin gaan plant, gaan hy heel verlore lyk.  Koop ten minste drie en plant hul in dieselfde area in jou tuin, sodat dit ‘n groter inpak kan hê.)
2)      Kyk vir blare wat bruin geraak het aan die plant of wat bruin kolle op het. 
(Bv.  As jy ‘n plantjie koop moet hy sommer vir jou “vrolik” lyk.  Beslis nie “triestig” nie.   ‘n Struik wat oortrek sit met blomme gaan gou jou aandag trek, maar moet nie net na die blomme kyk nie, kyk ook dat die plant gesonde blare het.)
3)      Lees altyd die “tags”. 
(Bv.  Elke plantjie behoort ‘n plakker of etiket op te hê wat sê presies hoeveel son hy benodig, of hy ‘n water wyse plant is en hoe groot die plant raak.  Dit sal help as jy ‘n plant koop wat spesifiek reg is vir die area in jou tuin waar jy hom wil plant.  Hou jou tuin deur die dag dop om te sien of die spesifieke plek volskadu of halfskadu of dalk volson is voor jy jou plante aankoop.  Kyk ook uit die beskikbare plek in jou tuin sodat jy nie ‘n plant koop wat 1.5m wyd word vir ‘n area waar jy net 30 cm beskikbaar het nie.)
4)      Kyk na die wortels van die plant.
(Bv.  Die wortels moet nie 15 cm al aan die onderkant van die pot uitgroei nie en daar moenie duidelike dik wortels wees wat aan die bokant van die pot sukkel om uit die klein potjie te groei nie.)
5)      Wanneer jy tuis kom met jou nuwe plantjies.  Plant hul so gou as moontlik. 
Sit die potte in die skadu tot jy hulle kan plant en maak seker hulle droog nie uit nie.