Thursday 15 March 2012

Kerwel - Anthriscus cerefolium
























Kerwel, ’n lid van die wortelfamilie, het ’n delikate geur wat onontbeerlik is in Franse fines herbes, ’n tradisionele fyngekapte kruiemengsel wat byna altyd kerwel, grasuie, pietersielie en dragon insluit.


Kweekwenke
Strooi die saad in die lente oor goed bemeste grond in die volson (in baie warm streke eerder in halfskadu, anders sal dit maklik verlep en gou saad skiet) en druk dit liggies vas. Dun die saailinge op ’n koel dag uit sodat daar minstens 20 cm tussen elkeen is. Volwasse plante word 30-45 cm hoog en hou nie daarvan om verplant te word nie.
Plant in grond wat goed dreineer en met baie kompos verryk is.
Kerwel en radyse is beste maats in die kruietuin.

Oeswenke en gebruike
Kerwelblare kan afgesny word sowat 6-8 weke nadat dit gesaai is.  Sorg dat jy die blare gebruik voordat die plant begin blom (wanneer dit sowat 10 cm hoog is).
Kerwel is ’n uitstekende plaasvervanger vir pietersielie in enige resep. Dit smaak vorentoe in sop, slaaie, kruiebotter en vis-, hoender- en eiergeregte.

Gekneusde kerwelblare wat op
vensterbanke en kombuisoppervlakke
gevryf word, hou vlieë weg.
– Margaret Roberts, Alles oor kruie

(Kyk onder resepte vir Knoffelkruiebotter)