Tuesday 13 March 2012

Boomtamaties / Tamarillos - Chutney

Baie mense hou nie van boomtamaties nie......tot hulle die chutney probeer.  As jou boom ‘n oorvloed boomtamaties dra, waarom nie probeer om chutney te maak nie?  Jy mag dalk ‘n nuwe voorliefde ontdek waarvan jy nooit geweet het nie en die resepte is regtig maklik.  (Dit kan dalk ook 'n oulike geskenk uitmaak - tuisgemaak.)

Hier is twee resepte vir Boomtamaties / Tamarillo Chutney, wat jy kan probeer:



Resep 1

2 Kg Boomtamaties
1 Kg Appels  (Granny Smith’s werk goed)
1 Kg Uie
½ Kg rosyntjies (pitloos)
1 ½ Kg suiker
1 Liter Asyn  (cider vinegar)
2 TL Sout
1 TL wit peper
2 TL “Mixed spice”
(Jy kan opsioneel klein bietjie cardamom of gemmer by voeg na smaak)

Om die boomtamatie te skil is maklik.  Maak ‘n snit onder in die skil van die tamatie en plaas in kookwater vir ± 2 minute.  Sit dan in koue water en die skil sal daarna maklik aftrek.

Sny nou al die boomtamaties, uie en appels in blokkies en plaas dit saam met die rosyntjies en speserye in ‘n groot pot op die stoof.  Kook teen matige hitte tot die vrugte begin sag word.

Gooi die asyn en suiker by en kook vir nog ± 2 ure.  Roer gereeld sodat dit nie vasbrand nie.

Resep 2
30-50 Boomtamaties
1kg bruin suiker
1 koppie asyn
4 knoffel huisies (opsioneel)
4 Appels (Granny Smith)
3 Uie
cayenne pepper,
sout en peper na smaak
Skil en sny die uie, appels en tamaties in blokkies.  Gooi in groot pot saam met al die ander bestandele en plaas op stoofplaat.  Roer gereeld terwyl dit kook op matige hitte tot dit die regte dikte bereik het. 

Wenk:  Chutney resepte kan maklik aangepas word.  Proe dus of jou speserye reg is volgens jou spesifieke smaak.  As jy hou van meer sout, kan jy bysit.  As jy hou van bietjie gemmer in jou chutney, kan jy dit ook byvoeg. 
As jy growwe chutney verkies, hou die vrugte in blokkies gesny, maar as jy fyn chutney verkies, is dit raadsaam om die vrugte vooraf in ‘n voedselverwerker te plaas tot dit reg is volgens jou standaard.