Friday, 10 February 2012
Vensterraam-rak
Ons het die basiese vorm van die raam gebruik om 'n rak vir 'n meisiekamer te maak.
Jy benodig
ou vensterraam
6mm-Supawood
wit viniel met 'n gomkant
glas (vir van die openinge)
stopverf
houtgom
spuitgom
paneelspykertjies
hamer
skêr
So maak jy
1 As jy nie 'n geskikte raam byderhand het nie, gaan soek een by 'n tweedehandswinkel.
2 Laat saag drie stukke 6mm- Supawood wat oor die lengte van die raam agter pas: een aan elke kant en die derde een in die middel. Ons het ons s'n 85mm diep gemaak. Laat saag ook stukkies wat bo en onder oor die breedte van die raam en tussen die drie lengtestukke pas.
3 Laat sny stukke glas wat in van die openinge in die raam pas - dis vir dié waar jy die viniel-woorde gaan aanbring. Sit die glas in die openinge, kap paneelspykertjies in die hout om die glas in posisie te hou en sit stopverf reg rondom die rande in.
4 Sit die raam agterstevoor neer en plak die Supawood-stukke met houtgom in posisie vas.
5 Tik die woorde wat jy op die glas wil gebruik in die grootte en lettertipe van jou keuse in op jou rekenaar en druk dit uit op gewone wit papier. Spuit gom aan die agterkant van die papier en plak dit op die blink kant van die viniel vas. Knip die letters uit, trek die papier en die waslagie aan die agterkant van die viniel af en plak dit op die glas vas.
6 Laat die raam teen die muur leun en stal mooi goed daarin uit.