Nie almal het 'n reuse tuin waarin hul elke dag kan skoffel en werskaf nie, maar wie droom nie van 'n prentjie mooi tuin nie...? Hier is 'n oulike idee vir 'n balkon, voordeur of dalk net 'n hoekie wat jy bietjie interressant wil maak. Dis ook 'n oulike idee vir iemand wat bietjie in die tuin wil werskaf, maar wie se liggaam dit dalk nie meer toelaat nie.
Neem 'n plastiek kom / bak en begin jou tuintjie deur dit te vul met goeie grond nadat jy 'n paar gate onder in die bak gemaak het vir water dreinering. Onthou jou plantjies wat jy daarin plant moet steeds mooi groei, so jy berei die bak voor soos vir enige ander potplant. Dan begin die lekker gedeelte waar jy kan droom....
Gebruik klein klippies om paadjies te pak. Ou pophuis speelgoed meubels wat jou dogtertjie nie meer gebruik nie, maak dalk 'n oulike tuinbankie. (Jy kan die kinders ook maklik hierby betrek.) 'n Huisie vir die vistenk wat lankal nie meer visse in het nie, kan dalk 'n oulike tuin-huisie wees. Jy kan jou verbeelding in oortyd laat werk en as jy volgende week dink dis nie meer oulik nie, is dit binne 'n paar minute wat jy dit weer kan verander.
Die lekkerte hiervan is niemand gaan vir jou sê jou "bonsai"-boompies is nie korrek nie, want dis 'n tuintjie vir die verbeelding. As jy dit kan optower in jou gedagtes, is dit 100% perfek vir jou miniatuur tuintjie. Geniet dit.