Wednesday, 8 February 2012

Kleintyd tuinier

Chantal het hierdie fototjie van Clarissa (3) vir ons gestuur wat haar ouma-grootjie alreeds navolg in die tuin.  Leer jou kinders ook van kleintyd af 'n liefde vir die tuin en plantjies.  Dis so belangrik dat hul leer om vir iets te sorg in die lewe en dis nie altyd moontlik om 'n hond of kat te kry nie, so 'n klein plantjie of twee kan dieselfde belangrike beginsels vir hul leer en soveel meer.....

Wanneer hulle 'n groente tuintjie begin deur saadjies te saai leer hul vir hul self kos voorsien.  Hulle sien hoe 'n paar saadjies kan verander in pragtige tamaties op die etenstafel.
Wanneer jy saam met hulle 'n paar blommetjies plant, leer hulle dat wanneer hulle vir 'n plantjie sorg, gee die plantjie weer eendag terug met oorvloed.
'n Liefde vir die natuur en respek vir die natuur is een van die belangrikste dinge wat ons ons kinders kan leer.  Begin al kleintyd en geniet die sonnige dae saam met jou kinders in die tuin.

Jy kan selfs:
  •  'n "feetjie tuin" vir 'n dogtertjie aanplant:  Plant mooi blommetjies en sit 'n paar feetjies (te koop by goedkoop winkels) tussen die blomme.  Hang 'n paar kristalletjies aan linte in die tuin.
  • 'n "motor-renbaan" tuintjie vir 'n seuntjie aanplant:  Plant aarbeie of ander plantjies in ou motorbande wat jul op mekaar stapel en helder kleure verf.  Sit ou vragmotortjies wat hy nie meer mee speel nie in die tuin en plant plantjies in die tip-bak van die vragmotor.  Maak resiesbaan vlae aan stokke vas en steek hul in die tuin vir boontjies om daarteen te rank.
Met sulke tuintjies, sal enige kind se verbeelding oortyd kan werk en hul sal droom vir 'n hele dag lank.  Moenie vergeet om darem ook 'n teddiebeer piekniek een of ander tyd in die tuin te reël nie.  Dit kan lekker pret wees....