Koekstaanders en Voëltjie kosbakke in die winkels is ongelooflik duur. Maak jou eie teen ‘n kwart van die prys wat jy in winkels sal betaal. Hier is ook 'n oulike katte kosbakkie idee wat die miere sal weghou van hul kos.
Koekstaander: Koop ‘n potplant drupbak en kleipotjie by jou kwekery en gom die twee aan mekaar vas soos op die foto. Dis so maklik soos dit. Al wat jy moet onthou is om die potjie presies in die middel van die drupbak vas te sit sodat jy nie later sukkel met ‘n koekstaander wat heeltyd omval nie. Jy kan die koekstaander net so in sy natuurlike kleur los of jy kan dit verf en selfs mosaiek as jy wil. Jy kan jou verbeelding vrye teuels gee.
Voëltjie kosbak: As jy ‘n groter potjie gebruik en jy draai die drupbak om, is dit weer ideaal vir ‘n voëltjie kosbak vir die tuin of in ‘n voëlhok. In die potjie kan jy die kos gooi en die drupbak is die waterbak. In hierdie geval gaan dit nie saak maak as jy die potjie heeltemal na die een kant in die drupbak plaas nie, want dit gaan die voëltjies net meer spasie gee. Die feit dat jy die twee bakke aan mekaar vas gom verseker ook dat die voëltjies nie maklik die kosbak kan omstamp nie .
Katte kosbak: Gebruik in plaas van ‘n potjie ‘n kleiner drupbak met hoë kante om in die middel vas te sit. Weereens kan jy dit meer na die een kant toe sit, sodat kietekat maklik by die kos kan uitkom maar daar steeds water rondom die bakkie is. Dit gee hom/haar ook meer spasie om by die water kant van die bak uit te kom. Die water rondom die kosbakkie verseker dat geen miere by die kos uitkom nie.