Monday 14 November 2011

KERSFEES ROOMYSKOEK






















(Die foto word net gebruik dat julle die idee kan kry hoe dit lyk)

 (6 porsies)
2 liter vanielje-roomys
1 liter sjokolade-roomys
100 g kasjoeneut- of grondboontjie-broslekkers (brittle)
Gebruik ’n metaalbak wat groot genoeg is om al die roomys in te skep. Voer die bak uit met kleefplastiek. (Moenie bekommerd wees as die kleefplastiek voue maak nie.)

Plaas die vanielje-roomys in ’n mengbak en roer tot sag, maar nie gesmelt nie. Skep so driekwart van die roomys in die uitgevoerde metaalbak, met ’n effense holte in die middel. Sit die bak in die vrieskas.

Kap die broslekkers in jou voedselverwerker fyn. Skep die sjokolade-roomys in ’n mengbak en roer tot sag (nes die vanielje-roomys). Meng die fyngekapte broslekkers met die sjokolade-roomys en skep in die holte wat jy in die vanielje-roomys gemaak het.

Skep die res van die vanielje-roomys bo-op. Maak die bak toe met kleefplastiek en plaas in die vrieskas. Hoe langer die roomyskoek in die vrieskas is, hoe harder sal dit wees.

Voordat jy die roomys-koek voorsit, verwyder jy die kleefplastiek wat bo-op is. Keer die houer om op jou opdienbord. Vryf met ’n warm lap en haal die bak af. Dit sal maklik afkom, omdat jy dit met kleefplastiek uitgevoer het. Sit voor saam met aarbeie wat in sjokolade gedoop is. En die lekkerste sjokolade-nougat-sous. (Resep is onder die Kersfees Resepte)