Monday 28 November 2011

Bou 'n gemmerbroodhuis














(Bron onbekend)


Maak: 2 huisies
Baktyd: 20-30 minute
Oondtemperatuur: 160 °C
Gemmerbrood
Sif 720 g meel, 12 ml bakpoeier, 10 ml fyn kaneel en 5 ml elk fyn gemmer en gemengde speserye saam in ’n bak. Verhit 250 g gouestroop, 400 g suiker en 60 g botter saam in ’n kastrol. Haal van die plaat af en roer 60 ml suurlemoensap by. Laat effens afkoel.
Roer 1/3 van die meelmengsel by die stroop en voeg een groot eier by. Roer om te meng, voeg die orige meelmengsel by en roer tot ’n stywe deeg. Knie die deeg vir ’n paar minute tot dit minder taai en meer elasties is. Deel die deeg in die helfte en rol dit uit in twee gesmeerde bakplate. Probeer om dit so glad as moontlik plat te druk en uit te rol. Bak vir 20 tot 30 minute tot goudkleurig en tot die kante effens verbruin.
Harde versiersel
Klits twee groot eierwitte tot skuimerig. Klits 500 g gesifte versiersuiker bietjies- bietjies by. Voeg ’n bietjie suurlemoensap by, net genoeg sodat die mengsel soos tandepasta lyk. Moenie te veel by- voeg nie; die versiersel moet sy vorm kan hou, maar smeerbaar wees.
Vergroot die patrone sodat die twee huisies 9 cm breed is. Knip vir elke huisie ’n voor- en agterpaneel uit, die agterpaneel sonder vensters en ’n deur. Knip vir die klein huisie ’n skoorsteen uit, asook twee sypanele van 6,5 x 7 cm. Knip vir die groter huisie twee sypanele van 6,5 x 11 cm uit. Knip vir elke huisie twee dakpanele van 7,5 x 8 cm uit. Lê nou al die stukke uit soos jy dit gaan uitsny.
1 Knip al die vorms uit papier. Lê die vorms vooraf uit soos jy dit uit die twee gemmerbrode wil sny. Sny dit so akkuraat moontlik met ’n klein mes met ’n skerp punt uit sodra die gemmerbrood uit die oond kom. Sit dit vir ’n paar minute terug in die oond as dit moeilik raak om te sny.
2 Versier die voorste panele met wafelbeskuitjies of lekkers vir die vensterhortjies en rond dit af deur harde versiersel om die rande uit te druk.
3 Gebruik nog harde versiersel om lekkers op die voorste panele vas te plak sodat dit soos bome lyk.
4 Versier die ander panele met nog lekkers in soortgelyke kleure. Laat vir ’n paar uur staan om droog te word.
5 Sit die huisies aan mekaar op die koekbord of skinkbord waarop dit uitgestal gaan word. Druk versiersel op die kante uit en druk die stukke liggies aan mekaar vas sodat dit lyk soos op die foto.
6 Plak die skoorsteen op sy plek vas en rond af met versiersel. Maak versierselpatrone op enige ander dele wat uitsteek, of plak eetbare koekversierings of nog lekkers daarop vas. Strooi klapper rondom die huis vir sneeu.
WENK Hou die panele vir die twee huise apart sodat jy nie deurmekaar raak nie.