Tuesday 25 October 2011

KERSFEES VRUGTETERTJIES






















Genoeg vir: 24

AMANDELBROSKORSDEEG
500 ml (240 g) koekmeel
125 ml gemaalde amandels
45 ml strooisuiker

125 g koue botter, in blokkies gesny
50 ml yskoue water
VULSEL
1 appel, geskil en pitte verwyder
60 ml sultanas
60 ml versuikerde skil
60 ml korente
100 g amandelsplinters
125 ml sagte bruinsuiker
15 ml lemoensap
1 ml fyn kaneel
1 ml gemengde speserye
knippie neutmuskaat
30 ml gesmelte botter
15 ml sjerrie
1 Maak die deeg: Meng die koekmeel, amandels en strooisuiker in 'n mengbak. Gooi die botterbokkies by en vryf dit met die vingerpunte by die meel in totdat dit soos growwe broodkrummels lyk. Gooi net genoeg koue water by om die bestanddele bymekaar te bring en 'n deegbol te vorm. Draai dit in kleefplastiek toe en sit dit vir omtrent 30 minute in die yskas.

2 Maak die vulsel: Rasper die appel in 'n mengbak en meng dit met die res van die vulselbestanddele. Bedek die bak en hou dit oornag in die yskas.

3 Voorverhit die oond 180 ºC. Rol die deeg sowat 2 mm dik uit op 'n meelbestrooide oppervlak. Druk met 'n koekiedrukker sirkels uit die deeg wat groot genoeg is om die holtes van 'n mini-muffinpan uit te voer. Skep die vulsel op die deegsirkels. Druk sterretjies uit die orige deeg en sit 'n sterretjie bo-op elke tertjie se vulsel. Verf die sterretjies met geklitste eier en sprinkel suiker oor. Bak dit vir sowat 12-15 minute of tot goudbruin.