Friday 21 October 2011

Feestelike Franse brood


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Rene Wessels het hierdie resep gegee:

Hierdie brood is werklik maklik om te maak, en die beste is dat daar altyd iets in die yskas is wat op die brood op gebruik kan word. ‘n Kort Franse brood kry ongeveer 25 – 30 snytjies uit. Indien jy ‘n lang Franse brood koop moet jy net eers toets of hy in die oond gaan pas.

Kry een Franse brood met lengte van jou keuse. Sny skyfies van ongeveer 1 cm breed, maar moenie regdeur tot onder sny nie – laat ‘n stukkie aan die onderkant vas aan mekaar.

Nou sit jy net ‘n vulseltjie tussen elke twee broodjies, draai dit in foelie toe en bak dit in die oond om die kaas te smelt.



Jy kan dit so eenvoudig of ingewikkeld maak soos jy wil, varieer byvoorbeeld hierdie gunstelinge van my:

* Gebraaide oestersampioene, pesto en mozzarella

* Tamatie, basiliekruid en mozzarella

* Swartwoudham en brie met kersieblatjang*

Moenie skaam wees om jou eie idees uit te dink nie. Nog bestanddele wat jy kan probeer, is ander soorte kaas of kouevleis, gaar spek of hoender. Jy kan ook tussen party broodjies net kaas sit, of mosterdbotter, wat jy maak deur sagte botter met ‘n klein bietjie aangemaakte Engelse mosterd te meng.

Draai die brood in foelie toe, en bak dit vir ongeveer 10 minute by 200 °C. Maak dadelik die foeliepakkie oop, as jy dit so toe los word die brood sag, en dis juis so lekker wanneer dit crispy is.

Laat elkeen dan vir hom een of twee broodjies aftrek, hoewel jy vir die beskaafdheid ‘n broodmes ook kan neersit.