Thursday 20 October 2011

BAKLAVA

















Lewer ’n groot tert

VULSEL
100 g okkerneute
50 g pistasieneute, afgedop, of dennepitte
50 g amandels
5 ml (1 t) fyn kaneel
2 ml (½ t) gemengde speserye
50 g strooisuiker
1 pak (500 g) filodeeg
170 g gesmelte botter

STROOP
250 ml (1 k) strooisuiker
300 ml water
sap van ½ suurlemoen
15-20 ml rooswater
60 ml (¼ k) heuning

Voorverhit die oond tot 170 °C. Smeer ’n 25 cm x 34 cm-oond-pan of spuit met kossproei.

VULSEL
Verwerk al die neute in die voedselverwerker tot grof gekap, voeg die speserye en die strooisuiker by en meng deur. Sny die filodeeg so groot soos die voorbereide pan. Bedek die filodeeg met ’n klam doek om te voorkom dat dit uitdroog. Pak 10 lae filodeeg, elk met gesmelte botter gesmeer, op die bodem van die pan. Besprinkel goed met die neutmengsel. Pak nog 5 lae filodeeg bo-op, elk met botter gesmeer. Sprinkel weer neute oor. Herhaal nog 3 keer met 5 lae filodeeg en neute; eindig met filodeeg. Gebruik ’n skerp mes en sny diamantvorms op die boonste laag van die baklava. (Moenie regdeur sny nie.) Bak 40 minute.

STROOP
Bring al die bestanddele vir die stroop, buiten die heuning, tot kookpunt. Roer gedurig sodat die suiker opgelos is voor dit begin kook. Verlaag die hitte en laat prut tot stroperig, sowat 10 minute. Voeg die heuning by. Giet die warm stroop oor die baklava wanneer dit uit die oond kom. Laat vir minstens 4 uur staan. Sny in diamantvorms en sit voor met vrugte en Griekse jogurt.
 
(Resep uit Huisgenoot)