Monday 5 September 2011

SPYSKAART WEEK 16

MAANDAG                Wors met kaas en appels
DINSDAG                  Karel se vegeratiese gereg
WOENSDAG             Hoender in die oond
DONDERDAG            Broccoli en pasta gereg
VRYDAG                   Sampioen-omelet


MAANDAG:              Wors met kaas en appels

1 kg wors
60 mℓ meel
15 mℓ asyn
4 appels, afgeskil, pitte verwyder en in ringe gesny
500 mℓ warm water
2,5 mℓ sout
30 mℓ bruinsuiker
250 g cheddar, in snye gesny

Bak die wors stadig in ’n pan tot dit gaar is volgens jou voorkeure.

Verwyder die wors en roer die meel by die pansappe. Roer tot die sous glad en bruin is.
Voeg geleidelik die water by en hou aan met roer. Kook tot die sous begin dik word.
Voeg die asyn en sout by.

Plaas die wors in ’n oondskottel, rangskik die appels bo-op, strooi die bruinsuiker oor en gooi die sous oor.
Plaas die skottel se deksel op en bak in ’n 180ºC oond vir 30 minute.
Plaas die kaas op die appels en plaas onder die oondrooster tot die kaas gesmelt en bruin is.


 'n Lekker vegetariese resep:

2 middelslag eiervrugte
1 klein ui gekap
1 fyn knoffelhuisie
½ koppie gevriesde “klein” groente (soos ertjies, mielies en geblokte wortels)

braaivleisspesserye
sout en peper na smaak
Non-stick pan (dit werk beter as om olie in 'n pan te gooi omdat die eiervrugte baie absorberend is kan jy met 'n olierige gemors eindig. As jy 'n gewone pan en olie gebruik moet dit verkieslik olyfolie wees)

Metode:

Kap die rou eiervrug in klein stukkies, kleiner as jou pinkienael. Jy kan dit ook in 'n voedselverwerker “pulse” maar oppas, jy is nie besig om 'n melkskommel te maak nie.

Braai die gekapte eiervrug asof dit maalvleis is in die droë pan, roer heeltyd om te keer dat dit water trek. Voeg die uie en knoffel by.
Sprinkel braaivleisspesery mildelik oor.

As die eiervrug gaar en bruin is kan jy die groente byvoeg en roer totdat dit goed warm en gaar is.
Proe en gooi sout en peper na smaak.

Bedien saam met bruinrys, gevlokte aartappel of sommer net op brood.

Dit kan ook as 'n vulsel vir pasteie of herders-pastei gebruik word.

WOENSDAG:           Hoender in die oond

1 hoender, in stukke gesny
5 mℓ rissiepoeier
5 mℓ
paprika
5 mℓ sout
5 mℓ fyngesnyde knoffel
5 mℓ fyngesnyde, vars gemmer
35 mℓ suurlemoensap
35 mℓ olie

Meng al die bestanddele saam - behalwe die hoender.
Plaas die hoender in die mengsel, bedek en hou oornag in die yskas.

Spuit ’n oondplaat en rangskik die hoenderstukke daarop.
Bak vir 30 minute in ’n 180ºC. Draai na 15 minute die stukke om.

Bedien die hoender saam met ’n groen slaai en Portugese rolletjies.

Vir happies kan jy hoendervlerkies vir die resep gebruik.

DONDERDAG:        Broccoli en pasta gereg

200 pipe rigate, of enige kort pasta van jou keuse, gaargemaak volgens aanwysings op die verpakking
1 blikkie tuna, gedreineer en gevlok
300 g vars broccoli, in blommetjies gesny
1 blikkie gesnipperde sampioene, 200 g gedreineer
60 mℓ wituiesoppoeier
150 mℓ melk
150 mℓ kookwater
100 g cheddar, gerasper

Smeer ’n oondskottel met botter en versprei die gedreineerde pasta op die bodem.
Versprei die tuna oor die pasta.
Blansjeer die broccoli vir 1 minuut in kookwater. Behou 150 mℓ van die water. Versprei die broccoli oor die tuna.

Meng die uiesop en melk tot glad.
Roer by die water, terwyl jy dit verhit. Bly roer tot dit kook en begin verdik. Bly roer vir 2 minute. Gooi die sous oor die gereg.

Strooi die cheddar oor.

Bak in ’n 180ºC oond vir 30 minute.

VRYDAG:      Sampioen-omelet

4 eetlepels botter
4 eetlepels olyfolie
125 g baba sampioene
2 knoffelhuisies, fyn opgesny
25 g sprietuie, fyn opgesny
8 eiers, geskei en apart geklits - die wit moet styf wees
100 g beleë cheddar, gerasper
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die olie en 2 eetlepels botter in 'n groot pan en braai die sampioene tot gaar.
Voeg die knoffel by en braai vir nog 1 minuut.
Vou die afsonderlike dele eier bymekaar tot dit goed gemeng is.
Verwyder die sampioene uit die pan en verhit die oorblywende 2 eetlepels botter.
Voeg die eier by en bak vir 2 - 3 minute.
Plaas die kaas, sprietuie en sampioene op een helfte. Geur met sout en peper. Vou toe en bak tot die kaas begin smelt.

Sit voor saam met ciabatta