Monday 12 September 2011

GROEN VYEKONFYT


Kies die vye wat goed uitgewel maar binnekant nie hol is nie.
Krap, rasper of skil hulle baie dun af ( seepsoda metode ) en maak `n snytjie in die vorm van `n kruis aan die blom-end van elke vy.
Weeg die vye.
Laat dit oornag in `n oplossing van kak of koeksoda lê ( 12,5 ml ( 1 e ) kalk of 25 ml ( 2 e ) koeksoda op 3,4 liter water.
Spoel die vrugte af, sit hulle in kokende water en laat hulle omtrent 15 minute lank kook tot hulle sag is. Gebruik die water vir stroop.
Druk die water uit en sit hulle geleidelik in kokende stroop. Gebruik 500 g suiker vir elke 500 g vrugte en 375 ml ( 1 1/ 2 k ) water vir elke 250 ml ( koppie ) suiker.
Voeg `n paar naeltjies, stukke pypkaneel of gekneusde gemmer en 37 tot 50 ml ( 3 tot 4 e) suurlemoensap by vir elke 3 kg vrugte, indien verkies.
Kook dit omtrent 2 uur lank vinnig in die stroop tot die vrugte helder en die stroop dik is. Maak 1,5 L ( 6 k ) stroop ekstra om mee aan te vul soos die stroop wegkook. Pak die vye in skoon, gesteriliseerde bottels, vul met die stroop en verseël hulle.