Monday 29 August 2011

Raak 'n horlosiemaker




















'n Muurhorlosie is 'n aanwins vir enige vertrek in die huis


Jy kan horlosiemeganismes met wysers koop by plekke wat horlosies herstel, maar jy kan ook 'n ou horlosie s'n gebruik - mits dit nog werk.

... op 'n spieël

Gebruik 'n ronde spieël en spuitverf 'n kantpatroon daarop. Laat die spieëlhandelaar die spieël sny en boor dan 'n gaatjie in die middel. Dis die moeilike deel: Jy sal 'n glas-boorpunt moet gebruik en baie liggies moet boor, anders kan die glas kraak. Werk op 'n stuk hout en doop die boorpunt in terpentyn voor jy begin. As jy klaar is, vee die spieël skoon en sit dit op 'n stuk koerantpapier neer. Sit 'n stuk kant bo-oor die spieël neer en spuit liggies daaroor met wit spuitverf om die patroon op die spieël oor te dra. Die wysers kan met emaljeverf versier word. Laat die verf heeltemal droog word voor jy die meganisme en wysers insit.



... as 'n notabord

Volg die basiese metode, maar gebruik 'n ‘gedagtewolkie' vir die vorm en verf dit een kleur sodat mense dit ook as 'n notabord kan gebruik. Boor die gaatjie vir die wysers aan die een kant sodat daar nog genoeg plek vir die notas sal wees. Wanneer jy die hout klaar geskuur het, verf die voorkant en die rande met PVA-verf in die kleur van jou keuse. Gebruik 'n sponsrollertjie vir 'n gladde afwerking en verf 'n hele paar lae tot die kleur egalig is. Sit die meganisme en wysers in as die verf droog is.


 
Die meeste horlosiemeganismes kom reeds met 'n hakie of opening waaraan die horlosie opgehang kan word. Jy hoef dus net 'n skroef of spyker in die muur te kap om dit op te hang. As jy nie gate in jou muur wil maak nie, kan jy dit ook met spieël-plakband aan die muur vasmaak.

Die basiese metode

Horlosies word deesdae met van hout tot plastiek, metaal en selfs keramiek gemaak, maar die maklikste is om met Supawood of veselbord te begin. Jy kan dit in enige vorm saag, jy kan dit verf of papier daarop plak, en dis boonop lig genoeg om teen die muur vasgesit te word.

Jy benodig

muurhorlosiepatroon
3 mm-veselbord
horlosiemeganisme met 'n battery
mooi papier (bv. plakboekof
geskenkpapier)
gewone wit papier
Bostik Sticki Dots (by skryfbehoeftewinkels
te kry)
gaatjiepons
hamer
uitsnysaag met 'n fyn lem vir
sagte hout
boor met 'n hout-boorpunt
(dieselfde grootte as die
meganisme se skag)
skuurpapier
houtlym
verfkwas
handwerkmessie en snymat
skêr
potlood

As jy syfers wil gebruik om die ure aan te dui, moet jy die horlosie se gesig in 12 gelyke dele opdeel en die wysers presies in die middel sit, anders sal die horlosie nie reg tyd hou nie.

So maak jy

Druk die patroon in die verlangde grootte uit op gewone wit papier, knip dit uit en trek dit oor op die hout.

Saag die vorm uit met 'n uitsnysaag met 'n fyn lem.

Merk waar die gaatjie vir die skag van die meganisme moet kom en boor die gat. Wenk Vou die papierpatroon in die helfte en dan weer in die helfte. Die punt wys waar die gat geboor moet word.

Skuur die hele houtvorm, veral die rande, netjies af en vee die stof weg met 'n droë verfkwas.

Verf 'n dun lagie houtlym oor die bokant van die houtvorm.

Sit die houtvorm gomkant ondertoe op jou mooi papier neer. Draai dit weer om, vee enige lugborrels uit die papier en laat dit droog word.

As die gom droog is, sit die vorm weer papierkant ondertoe op jou snymat neer en sny die papier om die hout netjies weg met jou handwerkmessie.

Hou die vorm so omgekeerd, druk jou gaatjiepons deur die boorgaatjie en kap liggies met 'n hamer daarop om 'n netjiese gaatjie in die papier te maak.

Steek die meganisme se skag van agter af deur die gat en plak dit vas met 'n Sticki Dot. Sit die wysers in (eers die uurwyser, dan die minute en sekondes) en klik dit vas. Sit die battery in en stel die tyd reg.


Artikel kom uit 'n Idees Tydskrif