Tuesday 5 July 2011

MAAK JOU EIE BILTONG















Die jagseisoen is voor die deur en die van julle wat gelukkig is om te gaan jag kan gerus hierdie basiese resep gebruik om jou biltong te maak.

Die resep is vir sowat 5-7 kg
Droogtyd: 2-3 weke

Benodig:

10kg wildsvleis
250 ml growwe sout
100 ml bruinsuiker
8 ml salpeter
12,5 ml koeksoda
7,5 ml peper
100 ml heel koljander, geskroei, gemaal en gesif

Metode:

Die tyd om biltong te maak moet net so versigtig gekies word as wat jy die vleis uitsoek. In klammer gebiede moet die vleis verkieslik in 'n biltongdroër gedroog word. Gebruik net vleis van goeie gehalte en verwyder soveel bindweefsel as moontlik. Die lekkerste is die dun, klein stukkies garingbiltong wat uit die rugfilette weerskante van die rugstring gesny word. Die boud is die ander snit waarvan biltong gemaak kan word. Sny biltong uit die boud langs die nate van die spiere en sny met die draad langs in lang stroke. Wees versigtig om dit nie te dik te sny nie, veral in vogtiger streke, en gebruik 'n groot skerp mes om netjiese, egalige snitte in die vleis te maak - los stukkies vleis kan skimmel bevorder.

Nadat die vleis gesny is, weeg dit en bepaal die hoeveelheid sout en ander bestanddele wat volgens die basiese resep nodig is.

Pak die grootste biltonge onder en die kleineres bo in 'n plastiek- of erdehouer - nie een van metaal nie, aangesien die pekel daarmee sal reageer.

Geur die vleis met sout, peper en jou ander geurmiddels.  Wees versigtig met die geurmiddels - dit moenie die vleisgeur oorheers nie  Elke persoon wat biltong maak het sy eie manier en natuurlik mengsel waarin hy/sy glo.  Die basis van die beslag is lekker growwe sout en peper en dan jou eie doepa soos bv geroosterde koljander, asyn, suiker, koeksoda en salpeter word by gemeng.  Baie belangrik moenie te veel speserye gebruik nie.

 WENK: 
Asyn gee geur en maak die vleis sag.
Bruinsuiker gee smaak en dit help om te voorkom dat die buitenste laag van die gesnyde vleis 'n vel vorm.
Koeksoda, asyn en salpeter werk soos preserveermiddels om muf te keer.
Salpeter help ook om die rooi kleur van die vleis te behou.

Hoe langer die vleis marineer, hoe meer sout absorbeer dit.
Hoe langer dit uitdroog, hoe sterker raak die geur.

Gebruik een van die volgende twee metodes:  (1) Die soutmengsel word eweredig oor elke laag biltong gesprinkel soos wat dit in die houer gepak word. Jy kan of die asyn saam met die soutmengsel oorsprinkel; dan is dit nie nodig om die soutmengsel in asynwater af te spoel nadat die vleis 12 tot 18 uur lank gelê het nie. Dit word eenvoudig net so opgehang. (2) Die 2de metode is om die soutmengsel oor te sprinkel en die vleis te laat lê vir 12 tot 18 uur. Spoel die vleis dan af met asynwater (1 deel asyn en 10 dele water) voordat dit opgehang word.

Hang die vleis aan draadhakies of toulussies op. Die biltonge moenie aanmekaar raak nie, anders sal dit muf. Hang dit die 1ste dag in die son en vir die res van die droogtyd (ongeveer 2 – 3 weke) in die koelte. Biltong kan binnenshuis gehang word, maar maak baie seker daar is 'n behoorlike trek is, maak gebruik van 'n elektriese waaier om die lugvloei te verbeter.

(Biltong in ons huis het gewoonlik nie kans gekry om baie lank te hang nie, soos dit droog geword het is hulle ge-eet)

Droë biltong kan in 'n gaasdoek op 'n koel, droë plek gebêre word. Die lug moet goed sirkuleer - moet dus nooit biltong in plastiek bêre nie.

WENK: 

Om biltong langer te bewaar kan dit in kleefplastiek toegedraai word. Druk dan al die lug uit en bevries vir hoogstens 'n jaar. Ontdooi die biltong oornag in die yskas en dan nog 'n uur teen kamertemperatuur. Onthou om biltong altyd teen kamertemperatuur voor te sit.