Monday 13 June 2011

Tuingereedskap

Die eerste winter maand is die ideale tyd om seker te maak al jou tuingereedskap is goed versorg.  Hier is ‘n paar voorstelle:
1)      Spuit tuingrawe skoon en druk die lemkant van die graaf in ‘n ou emmer vol olie en growwe riviersand.  Herhaal ‘n paar keer.  Die sand sal dit mooi blink en skoon maak en die olie sal beskerm teen roes.
2)      As jou kruiwa geen ander keuse het as om buite te slaap nie, onthou om hom om te keer sodat die reënwater nie in hom opdam nie.  As hy bietjie gedaan lyk, kan jy hom altyd weer ‘n nuwe lagie verf gee.
3)      Tuinvurke moet skoon gespuit word en goed afgedroog word.  Verf dan ‘n dun lagie olie aan die metaalgedeeltes en smeer die hout dele met roulynolie om sodoende vog te behou.
4)      Spuitkanne moet met seepwater skoongemaak word om seker te maak alle vorige spuitstowwe is uitgespoel.
5)      Tuin handgereedskap kan net soos tuingrawe skoongemaak word.  ‘n Oulike idee is om hulle sommer met ‘n kannetjie spuitverf weer ‘n nuwe lagie verf te gee, verkieslik in ‘n helder kleur sodat hulle nie maklik wegraak tussen die plante waar jy werk nie.
6)      As jy ‘n metaal gieter het, maak seker dat waar jy hom bêre, hy nie vol water staan nie.  Jy kan hom bietjie nuwe lewe gee deur hom met helder kleure te spuitverf en maak hom sodoende sommer deel van die tuin dekor.
7)      Laaste, maar ook seker die belangrikste, is om jou snoeiskêr nou baie goed skoon te maak voor die snoei seisoen.  Maak die lemme skoon met brandspiritus en olie die meganisme van die skêr om weer maklik te kan beweeg.  Indien nodig, vervang die lemme.
Maak ook seker jy het ‘n goeie tuin besem en hark en dat die boom saag se lemme nog goed en skoon is.  Hierdie items kan net soos bogenoemde behandel word om seker te maak hulle hou nog baie jare.