Tuesday, 31 May 2011

Winterkoue en lentebolle

Die winter is hier en dis nie aldag meer lekker om buite in die koue te werskaf nie.  As jy egter nognie jou lente bolletjies in die grond het nie, gaan jy baie spyt wees wanneer lente opdaag en daar is geen blommetjie in jou tuin nie. 
Kom ek deel ‘n geheim of twee.  Die tuinboeke en kenners sê jy moet die grond voorberei en jy moet die bolletjies teen einde herfs in die grond hê, ens….maar September reën dit partykeer nog en breek lente eers regtig Oktober maand (die mooiste mooiste maand) aan.
Dit hoef nie ure se werk te kos nie.  Sodra die sonnetjie kans gee tussen die reën buie, hardloop uit en druk die bolletjies oral in die tuin.  Reguit rye is buitendien vervelig en jy kan altyd later op ‘n sonnige dag die onkruid uittrek en die afrondingswerk doen. 
As daar genoeg tyd is, gryp die hand tuingrafie/vurkie en maak die grond sommer so los soos jy aangaan.  Dis regtig nie ‘n werkie wat baie lank hoef te neem nie, maar ten minste is jou bolletjies dan in die grond en gereed om te begin groei.