Tuesday 17 May 2011

Ons kan almal

Hallo julle.
Hierdie prentjie wys mens kan 'n tuin hê EN hom met jou saam neem as jy trek.  Daar is moontlik waardevolle plantjies in wat deur generasies al aangegee was van een tuinier na 'n ander.  So dis dalk baie kosbaar.  Baie van ons het mos sulke plantjies wat jy bewaar omdat ouma dit in haar tuin gehad het, of jou ma het nog vir jou 'n steggie van dit gegee. 

Vandaar my storie vandag.  Steggies is 'n goedkoop manier van plantjies bymekaar maak.  Wanneer jy vir familie of vriende gaan kuier en daar is 'n plant wat mooi is, vra 'n steggie.  En onthou 'n steggie is nie 'n TAK van die plant nie.  Jy hoef nie jou arme vriend of vriendin se tuin om te grawe vir 'n stukkie plant met wortels aan nie.  Nee 'n steggie is maar slegs 'n klein nuwe groeisel deeltjie van die plant. (Of dan nou, as daar toevallig 'n klein plantjie onder die groter struik opgeslaan het wat dalk wortels mag hê.)   Bv. 'n Malva steggie kan net 'n stukkie van 'n takkie wees met een of twee blaartjies.  Jy druk hom in die grond en siedaar.

As jy kan, kry vir jou 'n bietjie hormoonpoeier by die kwekery, druk die puntjie van die steggie daarin en dit sal help met wortelvorming.

Ek moet toegee dit neem somtyds bietjie langer om 'n groot plant te word as die een wat jy in die kwekery sou koop, maar hierdie is die ideale begin om al daardie spesiale plantjies vir jou tuin te kry sonder dat jou begroting daarmee heen is.

Begin vandag met jou steggie-tuin.  Mens weet nooit hoe dit gaan eindig nie.  Dit mag dalk 'n prag tuin word eendag.