Wednesday, 25 May 2011

Goggas, torre en slakke Kolwyntjies














Goggas, torre en slakke

Basiese kolwyntjies
125 g sagte botter
180 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
1 ekstra-groot eier, geklits
550 ml bruismeel
200 ml melk

Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n muffinpan met papiervormpies uit. Verroom botter en strooisuiker goed. Voeg vanieljegeurseleneier byenklits deur.Voubruismeel en melk by belag in.
Maak papiervormpies driekwart vol met beslag en bak vir 12-15 minute, tot liggoudbruin en gaar. Haal uit pan en laat op draadrak afkoel (anders trek papiervormpies los). Lewer 12 standaardgrootte en 24 mini-kolwyntjies. Wenk: Soek vir mini-muffinpanne by supermarkte of bakwinkels.


Basiese botterversiersel
125 g sagte botter of margarien
500 ml versiersuiker, gesif
10 ml vanieljegeursel
Kookwater of louwarm melk

Verroom botter of margarien en versiersuiker saam. Klits vanieljegeursel en kookwater of melk by om smeerbare versiersel te kry. Hou aan klits tot lig en romerig. Voeg kleursel by, soos verkies. Lewer 500 ml


Oranje gogga: Smeer ’n paar kolwyntjies met oranje botterversiersel. Gebruik dun stukkies skoenveterdrop om die lyfie in ’n koppie en twee vlerke te verdeel. Pak klein, helder lekkertjies (soos mini-Astros) op die vlerke en gee die gogga twee ogies van silwer of gekleurde, blink balletjies. Spuit ’n dun strepie swart botterversiersel vir ’n bekkie.

Groen tor: Smeer ’n paar kolwyntjies met groen botterversiersel. Druk ’n groen jellielekker voor op elke kolwyntjie vas vir die tor se kop en pak ’n rytjie plat, groen lekkers agter die kop vir ’n lyfie. Druk twee pretzels aan weerskante van die lyf in, sodat dit regop staan, vir vlerke. Spuit ogies en ’n mondjie van swart botterversiersel en druk twee klein stukkies swart pypskoonmaker in die tor se kop vir voelers.

Pienk slak: Smeer ’n paar kolwyntjies met pienk botterversiersel. Skep swart botterversiersel in ’n spuitsak met ’n baie dun punt en spuit ’n spriaalvorm op die koekie. Pak vier tot vyf pienk Smarties langs mekaar teen die kant van die kolwyntjie vir die slak se lyfie en plak ’n groot, plat pienk lekker langsaan vir sy kop. Spuit ’n gesiggie op die groot lekker met swart botterversiersel en gee vir die slak voelers van stukkies pienk pypskoonmaker.

Geel spinnekop: Smeer ’n paar kolwyntjies met geel botterversiersel. Spuit kolle swart botterversiersel op sy lyfie en druk stukkies skoenveterdrop of swart pypskoonmakers teen die kante in vir pote. Plak ’n groot, geel lekker aan die voorkant vas en spuit ’n gesiggie met swart botterversiersel.