Monday 26 March 2018

Worsiepasta



Worsiepasta
Genoeg vir 4
Jy het ’n pastamasjien hiervoor nodig.
Pasta
300 g koekmeel
’n knypie sout
3 eiers
15 ml (1 e) olyfolie
Sous
30 ml (2 e) olyfolie
250 g (5-6) handgemaakte Italiaanse worsies soos salsiche of enige ander gehalteworsie
1 ui, fyn gekap
2 kort selderystingels, fyn gekap
2 middelslag-wortels, geskil en fyn gerasper
2 knoffelhuisies, fyn gekap
15 ml (1 e) tamatiepasta
1 x 400 g-blik heel, geskilde tamaties - druk dit met ’n vurk in die sous fyn
sout en gemaalde swartpeper
80 ml (1/3 k) parmesaan, fyn gerasper
'n hand vol basiliekruid
Pasta
1 Sif die meel en sout in ’n groot mengbak saam en maak ’n holte in die middel. Breek die eiers en olyfolie in die holte en werk dit in die meel in. Knie vir 10 min. tot elasties en ’n gladde deeg gevorm het. Draai styf in kleefplastiek toe en laat die deeg vir minstens 45 min. in die yskas rus.
2 Rol die deeg met die pastamasjien tot op die nommer 6-stelling uit en laat die velle hang om winddroog te word. Sny in tagliatelle-vorm op die snykant van die pastamasjien. Hang dit op terwyl jy die pastasous maak.
3 Verhit die helfte van die olyfolie in ’n kastrol. Druk die gemaalde vleis uit die worsie om frikkadelle te vorm en braai tot goudbruin. Haal uit en hou eenkant.
4 Verhit die oorblywende olie en braai die ui, seldery en wortels tot goudbruin. Voeg die knoffel by en braai vir ’n paar minute.
5 Voeg die tamatiepasta, heel geskilde tamaties en kruie by. Sit die worsiefrikkadelle weer by. Prut vir 10-15 min. oor lae hitte. Geur na smaak met sout en peper.
6 Kook die vars pasta vir 3-5 min. of tot aldente in ’n groot kastrol kokende soutwater. Gooi die water af en sprinkel olyfolie oor die pasta.
7 Roer die tamatiesous deur die warm pasta. Sit voor met die parmesaankaas en ’n hand vol basiliekruidblare.
(Vickie de Beer en Jana van Sittert)